Local newsNews

Onderberg-moord: Familie sê Jurgens Nel het probleme gehad

Nel se dood op die plaas Lowhills het die gemeenskap geruk. Sonell Joubert se inhegtenisname het wye reaksie ontlok.

Die dood van Jurgens Nel (45) op die plaas Lowhills en die inhegtenisname van Sonell Joubert op Maandag, 3 Februarie, het inwoners van die Onderberg in skok gelaat.

Die dossierinskrywing op Nel se dood het aangedui dat hy Maandag met steekwonde in ’n huis op die plaas gevind is en op die toneel dood verklaar is.

Dié voorval het gevolg nadat Joubert Saterdagaand ’n saak teen Nel oopgemaak het en volgens die dossierinskrywing beweer het dat hy haar aangerand het, probeer verwurg het en ook met ’n mes gesteek het, waarna sy hom terug begin steek het.

Die foto van ‘n bebloede Sonell Joubert is op Lowvelder se Facebook gedeel.

Sosialemedia-inskrywings op Laevelder se Facebook-blad ná die nuus bekend geword het, het die ongeloof weergegee.

Petro Bekker het geskryf: “Selfverdediging beslis! Ons sisteem faal ons erg… ons justice, ons polisie, ons alles… En as so iets gebeur is dit allesbehalwe hulle skuld… Hier is meer agter die storie. Mag geregtigheid hier gebeur,” terwyl Losaan van der Westhuizen Meiring gesê het: “Daai was selfverdediging. Sonell sal niemand doodmaak.”

Laevelder het met Nel se oom, Philip, ’n bekende van die omgewing, gesels. Hy het Jurgens by hom ingeneem kort nadat hy in Augustus uit die Jahara Rehabilitasiesentrum digby Hoedspruit ontslaan is.

Lees ook: Moordondersoek ná Lowhills-werknemer se mesdood

“Jurgens het my gevra of hy by my kan kom bly, maar ek het vir hom gesê dat ons hom so vir 10 dae kon huisves tot hy verblyf kon kry. Hy het vir ’n maand gebly voordat hy by Johan Möller en Sonell Joubert op hul plaas verblyf gekry het.”

Philip sê Jahara is waar dat Jurgens vir seks- en pornografieverslawing behandel is. Hy was vir sowat twee jaar by die sentrum. Hy was ook bewus dat Jurgens medikasie soos Prozac en Concerta gebruik het.

“Ons het hom as ’n goeie jong man ervaar. Hy het ’n probleem gehad en hy was eerlik met my daaroor. Ek weet dat hy ook nog ’n keer gestruikel het tydens ’n besoek aan Suidwes. Hy het daarna vir my beloof dat hy werklik wou aangaan,” vertel Philip.

Volgens hom was Jurgens ’n modelpasiënt by Jahara en het hy later self as ’n leierfiguur opgetree. Hy was goed met handewerk en het veral sy liefde vir houtwerk hier uitgeleef.

Nel sê hy was bly toe Jurgens die geleentheid op Lowhills gekry het, want daar sou hy hom in die bos kon uitleef, houtwerk doen en met die olifant interaksie hê.

“Ek het vir hom daar gaan kuier, en dit het gelyk of dit die eerste twee maande baie goed gegaan het. Sonell het selfs vir my gesê sy kon ’n bietjie verlof neem omdat Jurgens goeie aanklank met die olifant gehad het. Ek was nie bewus van probleme nie.”

Maar op 15 Januarie het Philip ’n oproep gekry dat Joubert en Möller bewus was van Jurgens se verslawing. Hulle wou hom van die plaas af hê.

Philip het hulle aangeraai om die prosedures te volg. “Ek het gedink Jurgens behoort terug te gaan na ‘n rehabilitasie sentrum, waar hy baie goed gedoen het.”

Volgens Philip het Jurgens die eerste paar maande van sy rehabilitasie self betaal, maar die familie het later die fooie betaal.

Philip sê dis jammer wat gebeur het, en dat hy geen kwade gevoelens jeens Joubert het nie. “Die gereg moet sy gang gaan.”

• Jurgens se roudiens word Donderdag in Malelane gehou.

• Joubert se borgaansoek sal Maandag in die Tonga Landdroshof plaasvind.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Jana Boshoff

Jana works as a senior support specialist for Caxton digital. Before that she was a journalist at the Middelburg Observer 15 years where she won numerous awards including Sanlam's Up and Coming Journalist, Caxton Multimedia Journalist of the Year, and several investigative awards. She is passionate about people and the stories untold.
Back to top button