Local news

Toyota Innibos 2025: ‘n Fees wat die Laeveld laat leef

Die fees se totale bydrae tot die plaaslike ekonomie is tussen R80m en R100,5m.

Die Toyota Innibos Laeveld Nasionale Kunstefees het in 2025 weer eens bevestig waarom dit een van Suid-Afrika se grootste en mees geliefde kulturele hoogtepunte is.

Dit is nie net ‘n musiekfees nie, maar ‘n viering van die volle spektrum van kuns en kultuur. Van musiek, teater en boeke tot visuele kunste, stalletjies en storievertelling, het dié fees oor die vier dae meer as 78 000 mense bymekaargebring.

Met vier kuierverhoë, ‘n hoofverhoog met die land se bekendste sangers, topteaterproduksies, ‘n boeke-crawl wat elke jaar binne minute uitverkoop word, en ‘n groot verskeidenheid kos- en kunsstalletjies, bied Innibos ‘n ervaring wat min feeste kan ewenaar. Vir die duisende mense wat jaarliks na Mbombela stroom, is dit werklik die fees der feeste – ‘n ervaring wat jy net kan verstaan as jy self daar was.

LEES OOK: IN FOTO’S: Hoërskool Bergvlam se Sparki’s vat vlam met konsert

Feeslojaliteit bly besonder hoog, met 25% van die feesgangers in 2025 wat Innibos al meer as 10 keer bygewoon het, die hoogste syfer nóg, terwyl 24% die fees vir die eerste keer bygewoon het. Dit weerspieël Innibos se volgehoue bekoring en lojale ondersteunersbasis.

Berenice West op die verhoog. Foto: Verskaf/Innibos
Berenice West op die verhoog. Foto: Verskaf/Innibos

Innibos se krag lê nie net in sy uiteenlopende program nie, maar ook in hoe dit mense van regoor die land bymekaarbring. Vanjaar het 48% van die feesgangers uit Mpumalanga gekom, met Gauteng wat 37% bygedra het.

Terwyl hierdie twee provinsies die ruggraat van die besoekersprofiel bly, het Limpopo, Noordwes en KwaZulu-Natal ook ‘n merkbare bydrae gelewer, en die fees het selfs internasionale besoekers uit Botswana, Mosambiek en oorsee verwelkom. Dit beklemtoon Innibos se rol as ‘n nasionale en internasionale gebeurtenis wat kulturele diversiteit vier.

LEES OOK: Innibos patrons urged to behave on the roads

Die Noordwes-Universiteit se Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe voer jaarliks ‘n onafhanklike studie oor Innibos se impak uit. Die projek word deur prof. Pierre-André Viviers, prof. Martinette Kruger, prof. Andrea Saayman wat die ekonomiese betekenis-analise lei, en prof. Adam Viljoen, bestuur. Die studie vorm deel van die Tourism Research in Economics, Environs and Society-eenheid, wat al meer as twee dekades lank ‘n spilpunt van innoverende en impakvolle toerismenavorsing is.

Die 2025-resultate oor voorkeurgenres het beduidende verskuiwings in feesgangers se belangstellings getoon. Musiek het duidelik as die gunsteling na vore getree en is deur 51% respondente gekies – ‘n merkwaardige styging van 44% in 2024. Komedie was die gewildste opvoerings en van 20% in 2024 tot 23% in 2025 gegroei, wat volgehoue vraag na ligte vermaak toon.

LEES OOK: Van kuns tot Kurt Darren – Innibos spog met ’n propvol feesprogram

Drama het ‘n afname getoon, hoofsaaklik omdat die program minder produksies in hierdie genre ingesluit het. Ander kategorieë soos klassieke musiek, visuele kunste, letterkunde en leefstyl het egter aansienlik veld gewen. Hierdie breër, uiteenlopende aanbod bied ‘n ryker begrip van feesgangers se belangstellings en skep ruimte vir meer gevarieerde programme, kruiskategorie-geleenthede en geteikende bemarking in die toekoms.

Op ‘n taalkundige vlak weerspieël Innibos ‘n prentjie van groeiende diversiteit. Afrikaans bly die dominante huistaal, wat 87% van respondente in 2025 verteenwoordig – effens meer as die 84% in 2024, maar minder as vorige jare. Engels het 10% van die feesgangers gevorm , terwyl 3% in die ‘ander’-kategorie geval het, wat isiZulu, Sepedi en Siswati ingesluit het. Hierdie uitbreiding van die taalkundige basis wys dat Innibos steeds sy sterk Afrikaanse kern bedien, terwyl dit ook geleidelik gehore uit ander tale en kulture lok.

Volgens die feesbestuurder, Andy Lubbe, is Innibos ‘n inklusiewe fees wat kulturele en etniese grense oorbrug.

“Dit is ‘n viering van wat ons as ‘n geheel kan bied, aan almal wat belangstel, en ons verwelkom en moedig mense uit alle uithoeke aan om Innibos te geniet. Wat ons in 2025 gesien het, is hoe die fees se diversiteit – of dit nou musiekgenres, tale of kulturele aanbiedinge is, nuwe gehore lok en sy impak verbreed. Dit beteken groter inklusiwiteit, duisende nuwe werksgeleenthede en groter ekonomiese waarde vir die streek.”

Wat die ekonomiese impak betref, het Innibos 2025 ‘n indrukwekkende mylpaal bereik. Aangepaste besoekersbesteding is op sowat R53,8 miljoen geraam, ‘n beduidende styging teenoor R35,2 miljoen in 2024. Organiseerderbesteding wat binne die plaaslike ekonomie gebly het, het sowat R13,2 miljoen beloop. Die fees se totale bydrae tot die plaaslike ekonomie is tussen R80 miljoen en R100,5 miljoen.

Kurt Darren op die verhoog. Foto: Verskaf/Innibos

Die effekte was duidelik sigbaar in besige restaurante, volbespreekte gastehuise, en die talle entrepreneurs en werkers wat jaarliks voordeel uit die geleenthede wat geskep word, trek. Die fees se groei versterk nie net plaaslike sakeondernemings nie, maar ondersteun ook indiensneming direk deur nuwe werksgeleenthede oor verskeie sektore te skep. Die fees het 786 werksgeleenthede in die kreatiewe en verwante bedrywe geskep, asook meer as
1 000 addisionele tydelike poste.

LEES OOK: Toe die stof gaan lê, was net Innibos-lekkerness oor

Terugvoer van feesgangers beklemtoon verder waarom Innibos jaar na jaar bly groei. Die oorgrote meerderheid van feesgangers het saamgestem dat die fees trots in hul kulturele erfenis kweek, entrepreneurskap en werkskepping bevorder, en Mbombela as ‘n toonaangewende toerismebestemming posisioneer. Lojaliteit teenoor die fees is buitengewoon hoog. 95% van feesgangers het bevestig dat hulle weer sal terugkeer, dit aan ander sal aanbeveel en positief oor hul ervaring praat. Dit weerspieël diep tevredenheid en betrokkenheid, en versterk Innibos se status as sowel ‘n kulturele hoogtepunt as ‘n sleuteltoerisme-aandrywer vir die Laeveld.

LEES OOK: Innibos was lekker soos ‘n krêkker

Toyota Innibos 2025 was dus nie net ‘n fees van musiek en vermaak nie, maar ‘n fees van mense, kultuur en gemeenskap. Dit het weer eens bewys waarom dit die Laeveld se grootste trots is – ‘n gebeurtenis wat harte wen, besighede ondersteun, geleenthede skep, en Mbombela se plek as een van Suid-Afrika se mees dinamiese kulturele stede verseker.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Gia Radnai

Gia is a senior journalist at Lowvelder and joined the editorial team in 2025. She started her career as a business journalist in 2022 and decided to pursue her dream of becoming a news reporter instead. She believes in giving people a voice and is known for her community and hard news stories.
Back to top button