KYK | Kaapsehoop legende gegroet met vier seisoene en liewenheersbesie
Rudi sal by uitstek onthou word vir sy liefde vir die natuur en sy menswees.
In die peerboord van Kaapsehoop is Rudi du Plessis se lewe Donderdag, 16 Oktober, gevier.
Die Kaapsehoop- en breër Laeveldse gemeenskap was in rou gedompel nadat ‘n geliefde inwoner, Rudi du Plessis, op 7 Oktober in die ouderdom van 56 oorlede is.

Vier seisoene in een was aan die orde van die dag tydens die lewensviering van Rudi – met Theuns Jordaan se Sonvanger asook ander liedjies van gewilde kunstenaars soos Koos du Plessis, Laurika Rauch en Lukas Maree wat gespeel het terwyl roubeklaers die kronkelende grondpad na die boord geneem het.
LEES OOK: Kaapsehoop rou na geliefde inwoner se skielike sterfte
Die woorde was só gepas.
Kaapsehoop se eie “DUP” sal onthou word – soos in die peerboord.

Rudi – ons Sonvanger
“Ek vra jou mooi, laat hom weer vir my kom skyn,
Sonvanger.
Laat my verstaan…
Hoe ‘n somer sommerso in die niet kan verdwyn,
En laat hom skyn.
Kyk of jy vir my die son kan vang.
Daar’s ‘n huisie in my hart waar die son kan bly.
Kyk of jy vir my die son kan steel.
Daar’s ‘n plekkie in die tuin waar die son kan speel.”
Die peerboord se welige groen gras en sowat 30 peerbome was sierlik met foto’s versier en onder een van die bome kon roubeklaers hulle skoene uittrek en een wees met die natuur – net soos Rudi was.

Gemaklik, net soos Du Plessis se liefde vir die buitelewe was, het roubeklaers onder ‘n groot marqueetent, met kampstoele en piekniekkombersies, sy lewensviering bygewoon.

Die diens is gelei deur ds. Johannes van der Merwe. Hy het met die aanvang van die lewensviering gesê dat Rudi hom aan koning Dawid laat dink.
“Ek is so bly dat almal wat vandag hier is, Rudi se innerlike geken het. Ons is vandag hier omdat ons vir Rudi lief was – en ons neem nie afskeid nie – want mens neem nie afskeid van iemand wat jy liefgehad het nie, want hy is altyd by jou,” het Van der Merwe gesê.
Mooi onthou in huldeblyke
Rudi se seun, Ruan (22), het in ‘n roerende huldeblyk bygevoeg dat hy met trots kon sê dat hy vandag die man is wat sy pa, Rudi, hom geleer het om te wees.
Du Plessis se geliefde waterspanielbrak, Nosh, het ná elke huldeblyk ‘n blaf of twee in die peerboord laat hoor, en dit was asof Rudi se teenwoordigheid net tasbaar was.
Sy dogter, Marone (19), het haar pa bedank dat hy altyd kon saam sing as sy musiek begin speel het.
“Dit is die vreugde hoe ek jou altyd sal onthou.”
Marone het vir ‘n oomblik stil geword, haar boekie waaruit sy gelees het omgedraai en aan die roubeklaers gewys dat ‘n liewenheersbesie op haar toespraak gaan sit het.

“Dankie dat ek kan sê dat my eie persoonlike pa – Rudi du Plessis – was, en soos Pappa altyd gegroet het, groet ek Pappa en sê tatta. Love you.”
Rudi se oudste suster, Alta Weys, het ‘n roerende huldeblyk gelewer.

“Sy groot skoene, as hy skoene gedra het, sal nooit volgestaan kan word nie; dit kan nie gevul word nie,” het sy gesê.
Rudi se ander susters, Miranda Scholtz, Irma van Tonder en Chriselda Klopper, het ook in hulle huldeblyke in mooi onthou-boodskappe vertel hoe hulle hul broer sal onthou, met al sy kwinkslae.
Talle staaltjies is gedeel oor sy spitsvondigheid, liefde vir die natuur, sy wye kennis oor argeologie en sy liefde vir die Afrikaanse taal.
Esmarie Glinster, Rudi se vriendin, het tydens haar beurt gesê: “When you miss Rudi, remember he loved you back to life.”
Soos die wolke begin opbou het en die silwermis oor Kaapsehoop stadig ingerol het, was dit asof Rudi toegevou word in ‘n silwerkombers tydens sy teraardebestelling.
Die nie-amptelike burgermeester van Kaapsehoop, voormalige goue medaljewenner by die Comrades Marathon en legende by uitstek, se boom het geval.
Maar die onthou sal voortgaan en diep gewortel bly vir ewig in almal se harte wat hom geken het.
Net soos sy suster, Weys, aangehaal het uit die bekende gedig van Jan F. E. Cilliers:
“Stil, broers,
daar gaan ‘n man verby,
hy groet,
en dis verlaas.
Daar’s nog maar één soos hy;
bekyk hom goed.”

Rudi is verlaas in sy lewensviering bo in die peerboord met mooi onthou gegroet, met jakkals-en-wolwedruppels, die geblaf van sy geliefde hond Nosh na elke huldeblyk en ‘n liewenheersbesie.
In onthou en groet – alles net soos hy dit sou wou hê.
Rudi is ter ruste gelê in die Kaapsehoop-begraafplaas.

*Du Plessis was ‘n bekende langafstandatleet en het in 1993 ‘n goue medalje in die Comrades Marathon verower. Hy het algeheel sesde geëindig in ‘n tyd van 05:52:21.
Hy was ook ‘n oud-onderwyser by Laerskool Laeveld in Nelspruit.
Du Plessis het in Kaapsehoop die gewilde Scootours bedryf.

Tobie van den Berg – voormalige Middelburg Observer-redakteur onthou Rudi du Plessis soos volg:
Dit was in 1993.
Ek het so pas ’n silwer medalje in die Comrades losgehardloop, 07:25.
Was op pad uit die stadion, toe ek my in ’n jubelende Rudi du Plessis en Deon Holtzhausen vasloop.
Het Rudi voorheen op die skoolterrein van Laerskool Midddelburg gesien en nogal gedink “hierdie is ’n onderwyser in murg en been, die kinders se liefling-onnie”.
Het nuuskierig gevra hoe het hulle Comrades verloop.
“Goud!” het hulle met ’n breë glimlag geantwoord.
Het hulle nie geglo nie.
Maar 1993 was werklik Rudi se jaar.
Dit het gegons oor die onbekende drawwer van Ngodwana wat die Comrades in die sesde plek in 05:50:44 klaargemaak het.
Holtzhausen was ’n onderwyser by HTS Middelburg en was agtste in 5:52:29.
Daardie week ’n berig geskryf oor die twee gouemedaljewenners.
Loop Rudi jare later by Nagkantoor-kuierkroeg raak.
Hy glimlag ondeund.
“Onthou jy daardie berig?”
En dit is nie lank nie, toe diep hy die berig van iewers op.
Die onwaarskynlike gouemedaljewenner.
Nou is Rudi dood.
Maar hy lewe.
Hy lewe voort in ons gedagtes.
Nie met ’n goue medalje om die nek nie.
Met ’n peinsende blik in sy oë, diep-aandagtig.
’n Sagte siel.
Mense-mens.
Uit goud gegiet…

* Die artikel is aangepas na publikasie.
