Hard newsLocal news

Huurder se honde glo verantwoordelik vir Ohrigstad veteraan se dood

'n Padstalwerker van Latsky Plaaswinkel is vroeër vanjaar deur dieselfde honde aangeval.

Nadat Peet Latsky (64), ‘n oorlogveteraan, verlede Woendag, 12 November, wreed op die plaas Grootboom deur drie kruisrashonde aangeval is, het die Limpopo-polisie beweer dat die honde aan ‘n huurder behoort het.

LEES OOK: Veteraan naby Ohrigstad wreed deur honde verskeur

“Volgens inligting wat ontvang is, het drie honde uit hulle geslote hok deur ‘n gat ontsnap en hom aangeval,” het die Limpopo-polisiewoordvoerder, brig. Hlulani Mashaba, gesê.

Peet is ongeveer 14:00 met ernstige bytwonde langs sy bakkie aangetref toe sy seun, Edward, ‘n groenteboer op dieselfde plaas, deur ‘n plaaswerker van die voorval in kennis gestel is.

“Toe ek daar aankom, was dit duidelik dat my pa die aanval vir etlike minute moes verduur,” het Edward gesê.

Hy het twee van die honde geskiet en sy hulpelose pa, wat van sy krukke afhanklik is, gehelp. Die ander hond het weggehardloop. Peet is met kommerwekkende lae bloeddruk per ambulans na Lydenburg Provinsiale Hospitaal geneem, waar hy ‘n bloedoortapping moes kry.

Hy is later na Mediclinic Nelspruit oorgeplaas en uiteindelik na Rob Ferreira Hospitaal, waar hy aan sy beserings beswyk het. Dit was egter nie die enigste hondeaanval op die plaas nie.

Soekie Vos, Peet en Edward Latsky.
Soekie Vos, Peet en Edward Latsky.

Edward het aan Laevelder vertel dat daar vanjaar in Mei ook ‘n voorval was waarin een van sy pa se padstalwerkers betrokke was. Ockert Doyer, die werker se stiefpa, het bevestig dat sy stiefseun ook deur die honde aangeval is.

Sy stiefseun het in Latsky Plaaswinkel se kombuis gewerk en het in ‘n tweeslaapkamerwoonstel saam met die huurders, wie se honde dit was, op die plaas gebly.

LEES OOK: Witrivier-hond se skietdood ontlok gemengde reaksies uit gemeenskap

Die werker het daardie dag met ‘n panga in die hand geloop toe die honde hom aangeval het. Hy is twee keer aan sy linkerbeen gebyt. Hy het gelukkig oor die heining gespring en weggekom. “Hy was vir drie weke afgeboek en moes steke vir sy ernstige bytwonde kry,” het Doyer gesê.

“Die huurders het ná die voorval geweier om die honde buite te laat slaap en het hulle toegelaat om selfs voor die werker se kamerdeur te slaap,” het Doyer vertel.

Sy stiefseun was erg getraumatiseer en het ‘n maand later bedank. Die saak is nooit by die polisie gerapporteer nie.

LEES OOK: Lowveld veterans salute fallen for Remembrance Day

Peet se dood word tans deur die Limpopo-polisie ondersoek, maar niemand is tot dusver in hegtenis geneem nie.
Hy was ‘n veteraan wat aan die Suid-Afrikaanse Valskermbataljon verbonde was. Van die medeveterane het ‘n huldeblyk met Laevelder gedeel.

Peet Latsky en Soekie Vos.
Peet Latsky en Soekie Vos.

“Die RMVO-SA voorsitter en lede van die bestuur betuig simpatie, deel sterkte en seënwense aan Soekie Vos en Latsky se familie met die afsterwe van militêre veteraan, Peet Latsky, op 12 November. Ons salueer jou. RIV.”

Laevelder het die Latsky-familie se versoek om nie hul eie huldeblyk te deel nie, gerespekteer. Peet laat sy twee seuns, sy dogter, sy verloofde, Soekie Vos, en 12 kleinkinders agter.

Sy begrafnis word Donderdag, 20 November, om 13:00 op die Grootboom-plaas A3 gehou.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Gia Radnai

Gia is a senior journalist at Lowvelder and joined the editorial team in 2025. She started her career as a business journalist in 2022 and decided to pursue her dream of becoming a news reporter instead. She believes in giving people a voice and is known for her community and hard news stories.
Back to top button