‘Buks of Niks’ laat ‘n groot leemte in die Laeveld
Die gemeenskap is in rou gedompel na Buks Welthagen in 'n noodlottige ongeluk gesterf het.
Buks ‘Buksie’ Welthagen se lewe is verlede Woensdag, 7 Januarie tragies kortgeknip in ‘n noodlottige motorongeluk op die R40. Sy skielike afsterwe het skokgolwe deur die Laeveld gestuur.
Welthagen was omstreeks 18:30 vanaf Witrivier na Mbombela onderweg toe sy voertuig met dié van ‘n ander motor gebots het. Die ongeluk het net duskant die Msholozi-kruising plaasgevind.
LEES OOK: Jong pa sterf in gru-botsing op R40 naby Witrivier
Luidens berigte is sy voertuig met die impak teen ‘n boom vasgeslinger, terwyl die ander motor in ‘n sloot tot stilstand gekom het. Die insittendes van die tweede voertuig, glo toeriste van Spanje, het slegs geringe beserings opgedoen.

Volgens Dewald Strydom, ‘n paramedikus van iSecure EMS, het Welthagen op die toneel aan sy beserings beswyk. Familielede het intussen ‘n kruis en blomme aan die boom waarteen sy voertuig gebots het gehang, ter nagedagtenis aan hom. Welthagen, ‘n inwoner van Witrivier en oudleerder van Hoërskool Rob Ferreira, word onthou as ‘n passievolle en avontuurlustige mens wat gans te vroeg gesterf het. Sedert die nuus van sy dood bekend geword het, het talle huldeblyke op sosiale media ingestroom.
LEES OOK: Huurder se honde glo verantwoordelik vir Ohrigstad veteraan se dood
Sy buurman, Bruce Macaulay, het vertel dat Welthagen ‘n diep liefde vir sy kinders en familie gehad het. Hy het onlangs sy 30ste verjaardag gevier. Welthagen was die eienaar van Inyati Fencing en het dit geniet om tyd saam met vriende en familie deur te bring. Hy laat sy verloofde, Ledéle Vorster, en hul twee kinders, Bea en Buks jr., agter.

Voor: Buks en Bea Welthagen.
Vorster se ma, Adele, het ‘n roerende huldeblyk op Facebook gedeel:
“Dis ‘n bittersoet tyd. Buksie, jy was nie net ons skoonseun nie, jy was ons kind. Jy was deel van ons Vorster-blokkie, soos jy en Jonathan Strydom ons altyd geterg het. Ons was volgens julle one of a kind, maar my kind, jy wás daai one of a kind. Jy het almal laat lag van julle skooldae af. Jy het nooit stilgesit nie en was altyd eerste om te help – selfs net om vuur aan te steek. Jou liefde vir ons Vader was so duidelik.”
Ledéle het ook ‘n boodskap gedeel.
“Ek het altyd gewonder of ander mense ook soveel soenfoto’s neem soos ons, maar dis dalk net die ding van Buks of niks wees. Ek mis jou met alles. ‘n Legende sal jy altyd bly, met jou kortbroek en plakkies, altyd ‘n hoed en natuurlik daai mooi mullet. Ek is van dag een af ‘mullet’ oor jou.”
Welthagen se lewe sal Vrydag, 16 Januarie, om 12:00 by Church Unlimited in Mbombela herdenk word. Die familie het versoek dat bywoners helder kleure dra om sy warm en lewendige persoonlikheid te weerspieël.
Die diens sal ook regstreeks op YouTube uitgesaai word.