Local newsUpdate

VIDEO: Katoen – ‘n skuiling en gemeenskap van hoop

Dit is nie net 'n hawelose gemeenskap nie - maar een van hoop waar jy met wilskrag weer op die been kan kom.

Katoen is nie ‘n plakkerskamp nie, ten spyte van dié algemene wanpersepsie.

Dit is ‘n gemeenskap van mense wat weens moeilike omstandighede alles verloor het, maar steeds strewe na hoop, waardigheid en selftrots.

Onder leiding van Willemien Reynecke word Katoen met dissipline, regverdigheid en deernis bestuur.

Die resultate spreek vanself: ‘n funksionele gemeenskap wat bewys dat herstel moontlik is.

Laevelder het byna ‘n jaar gelede Katoen besoek nadat ‘n blik wurms oor beweerde ongeruimdhede oopgemaak is en soos ‘n veldbrand op sosiale media versprei het.

Reynecke het toe in ‘n openhartige onderhoud die leuens ontbloot.

LEES OOK: Katoen | Hemel vir haweloses op hulle knieë vir skenkings

@lowvelder

’n Hemel vir haweloses, twee maaltyde per dag en ’n kans op ’n tweede begin. Dit is Katoen. Net buitekant Witrivier. Maar ’n onlangse sosiale medialasterveldtog wat blyk totaal onnodig was, het van die donateurs laat onttrek, kosvoorrade is skraps, en die klein hawelose gemeenskap staan nederig en vra vir skenkings. Willemien Reynecke het nege jaar gelede dié heenkome vir haweloses op die been gebring. #shelter #homelesspeople #skenkings #poorpeople #pleasehelp #whiteriver #katoen

♬ original sound – Lowveld Media

Nadat donateurs en skenkers hulle steun onttrek het weens die lasterveldtog, het die berig in Laevelder en op sosiale media gehelp om vertroue te herstel.

LEES OOK: Katoen dankbaar vir skenkings wat begin instroom

Die artikel het ook Swiss4Afrika in Switserland bereik, wat daarna na Laevelder en Katoen uitgereik het.

Toe die direkteur van Swiss4Afrika en We4SA, Randel van Heerden, en sy vrou, Stephanie Perillard, Maandag saam met Laevelder Katoen besoek het, was die opgraderings merkwaardig.

Die selfversorgende tuine voor elke woning spreek boekdele, en die netjiese erf, groentetuin, nuwe ablusieblok en waskamer – en soveel meer – skep hoop vir groot dinge wat voorlê vir dié toevlugsoord vir haweloses.

Dit is juis by die ablusieblok waar daar, met die hulp van We4SA, ‘n splinternuwe houtgestookte warmwaterstelsel vir Katoen geïnstalleer gaan word.

Randel van Heerden by die ou donkie.

Tans maak Katoen nog gebruik van die ou ‘donkie-metode’ om water te verhit.

“Danksy die vrygewigheid van ons ondersteuners het We4SA, saam met gemeenskapsleiers van Mbombela en Witrivier, is ‘n splinternuwe ‘Rocket 250 Mk2’-houtgestookte warmwaterstelsel vir Katoen aangekoop. Hierdie 250 L-stelsel, met sy ingeboude vuurkas en demper, sal geïnstalleer word en betroubare warm water aan die sowat 60 inwoners verskaf,” het Van Heerden gesê.

Die splinternuwe ‘Rocket 250 Mk2’-houtgestookte warmwaterstelsel .

Baie van die gesigte van ‘n jaar gelede is nie meer daar nie. 

Volgens Reynecke is hulle weer op hul voete en het elders werk gekry. 


“Swiss se bydrae gaan ons baie help. As almal saam hande vat, kan ons ‘n groot verskil maak. Laevelder help ons baie met publisiteit om ons op die kaart te sit, want baie mense weet nie van Katoen nie.”

Breinstorm om die tafel

Na ‘n toer deur Katoen is daar saam om ‘n tafel gesit, met heerlike verversings wat Reynecke self voorberei het, om die pad vorentoe met rolspelers uit die gemeenskap te bespreek.

Van Heerden het gesê hy is beïndruk met die veranderinge wat hy die afgelope jaar gesien het.

“Die artikel wat verlede jaar in Laevelder verskyn het, het beslis mense se siening verander, en ons is dankbaar daarvoor,” het hy gesê.

Willemien Reynecke, Randel van Heerden, Brian Ring en James Richardson.

Hy het egter beklemtoon: “Swiss4Afrika en We4SA wil nie oorneem of inmeng met hoe Katoen bestuur word nie – dit is duidelik jy weet wat jy doen, Willemien. Jy doen ongelooflike werk. Maar ons is net ‘n oproep weg. As die gemeenskap van Witrivier en Mbombela saamstaan, kan elke bietjie ‘n groot verskil maak. Die struktuur is nou in plek.”

Katoen werk tans aan ‘n selfonderhoudende projek om fondse te genereer, en verskeie ander projekte is bespreek.

Van Heerden glo dat die volgende prioriteit ‘n veiligheidsmuur rondom die terrein en die installering van sonkragligte moet wees.

Opvoeding lê hom ook na aan die hart, en daarom ondersteun hy die kleuterskool wat daar begin is.

Stephanie Perillard, Randal van Heerden, Riaan Jordaan en Willemien Reynecke.

“Die doel van Swiss4Afrika en We4SA is om te belê en op te bou – veral in kinders. Selfonderhoudende projekte is baie belangrik,” het hy gesê.

Katoen vier 10 jaar

Vanjaar vier Katoen sy 10de bestaansjaar.

Een van die rolspelers, wat anoniem wil bly, het gesê hy het oor die jare ‘n duidelike, positiewe verandering by Katoen gesien.

‘n Opedag is in die beplanningsfase.

Gaste sal kan smul aan ‘n Katoen-ete en ook as beoordelaars optree om die wentuin onder die inwoners aan te kondig. Meer besonderhede sal later bekend gemaak word.

Op Katoen se wenslys is tans ‘n klouterraam vir die jongspan (of materiaal om een te bou), asook ‘n kettingsaag om groot stompe makliker te verwerk vir die houtgestookte warmwaterstelsel.

Ruim skenkings word steeds gevra

Voedselskenkings bly noodsaaklik.

Items soos mieliemeel, soppoeier, rys, macaroni, poeiermelk, matabella, papmeel, uie, aartappels, wortels, margarien, soya mince en kool is volgens Reynecke van onskatbare waarde.

Swiss4Afrika los liefdespoor van hoop

Met Laevelder en Swiss4Afrika se vertrek Maandagmiddag het die klank van ‘n byl wat hout kap, steeds oor die terrein weerklink, terwyl Jak de Priester se lied oor die draadloos speel: “Die liefde los sy spoor…”

Louis de Bruin om hout te kap vir die donkie. ‘n Kettingsaag is op Katoen se wenslysie.

Hoe gepas, want met oop harte soos dié van Van Heerden en sy span word meer as spore gelaat; hulle bou paaie van hoop vir Katoen se toekoms.

Dit is meer as liefde wat hier ‘n spoor los – dit is hoop wat inwoners weer trots en waardig laat voel.

Al is dit soms min, is dit steeds meer as wat hulle voorheen gehad het.

Om betrokke te raak by die ope dag, stuur ‘n e-pos aan bertus@laevelder.co.za.

Vir skenkings, skakel Reynecke by 079 290 7094.

Om by Swiss4Afrika betrokke te raak, stuur ‘n e-pos aan Van Heerden by randel@swiss4afrika.com.

*Swiss4Afrika en We4SA se primêre doel is om kwesbaar en minderbevoorregte gemeenskappe by te staan. Ons poog om die siklus van armoede te verbreek.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Bertus de Bruyn

Bertus de Bruyn is based in Mbombela, Mpumalanga. De Bruyn has been employed by Caxton since 2009. After a short sabbatical of two years, De Bruyn is back at the place he called home, Caxton, at Lowveld Media. He is currently the digital content manager, but has 14 years of journalism skills, news editor, and acting editor duties behind his name.
Back to top button