Local news

Retha Fourie verruil joernalistiek vir gasvryheid op Kaapsehoop

Ná dekades in nuuskantore en lesingsale regoor Suid-Afrika het ’n bekende gesig in die mediabedryf die stad se gejaag en sperdatums verruil vir rustige, mistige oggende op die berg.

Kaapsehoop is beroemd vir al die bekende gesigte uit die joernalistieke wêreld wat daar nes skrop, en so het nog ’n groot gees, Retha Fourie, besluit om die dorpie haar nuwe tuiste te maak.

Fourie deel die berg met ander geesgenote soos De Wet Potgieter, Dana Snyman en Annemarie van der Walt en is gereed vir al die nuwe uitdagings in haar nuwe rol, waarin sy voortaan die Green Venus-gastehuis gaan bestuur.

Fourie het min of geen bekendstelling nodig nie. Sy matrikuleer op Standerton, waarna ‘Hansie Slim’ haar die wye wêreld instuur.

Van akademie na die nuuskantoor

In Pretoria studeer sy aan die Onderwyskollege, sowel as by Tuks en Unisa. Sy behaal haar onderwysdiploma in Junior Primêr met Zoeloe en Noord-Sotho as hoofvakke. Sy verwerf haar Honneurs in Volkekunde by Tuks. By Unisa werk sy as deeltydse junior dosent in Antropologie. In Chrissiesmeer en Ermelo raak sy betrokke by die Landelike Stigting, en later in Johannesburg en Pietersburg sluit sy aan by die SAUK.

Fourie sprei ook haar vlerke oorsee, na Chichester en Windermere in Engeland, waar sy op plase, by gastehuise en in restaurante werk. Terug in Suid-Afrika is sy werksaam in Polokwane by die SAUK en later in Johannesburg by Beeld se nagkantoor.

Sy was ook betrokke by die koerant as landbouverslaggewer. Sy werk ook by AgriTV, Leapfrog, die Bosvelder en verskeie landboutydskrifte. Fourie vertel lighartig dat sy Marius Bakkes bedank.

“Dankie aan Marius Bakkes wat destyds in Count du Barry vir my sy nommer gegee het en gesê het ek kan nie met ’n graad as ’n kelnerin in ’n restaurant werk nie – ek moet hom by die SAUK bel as ek werk soek,” vertel sy.

Maar hoekom juis Kaapsehoop toe verhuis? Soos vir enige persoon wat al die pragtige bergdorpie besoek het, kom die antwoord vinnig: sy het haar hart hier verloor.

Verlief op die mistige bergdorpie

“Ek het wyd verkondig dat ek eendag hier wil kom woon, en toe kom die geleentheid na my met Sonia en Bruce Dawson wat die Green Venus-gastehuis gekoop het en ’n bestuurder benodig,” vertel sy.

En dit was ’n vyfminuutbesluit, vertel sy. “Dit het gevoel of alle sorge en werkstres van my skouers af gly en ek tuis kan voel in ’n gemeenskap waar mense kuier en gesels en vir mekaar omgee. Boonop is dit mooi en groen en mistig, soos die Mere-gebied waar ek ’n wonderlike jaar gehad het.”

Die gewoel van die stad gaan sy nie veel mis nie, maar wel haar seun, Marco, wat daar werk en al haar wonderlike vriende in Johannesburg en Pretoria. Die toekoms hou groot dinge in vir haar.

“Ek is nou die bestuurder van die Green Venus-gastehuis in Kaapsehoop en ek moet alles moontlik doen om genoeg boude in die beddens te kry, veral weeknagte.” Fourie is ’n joernalis in murg en been en vertel ook sommer so terloops hoe sy voel oor digitale nuus versus die gedrukte weergawes.

“Ek het meer nuus gelees toe die gedrukte formaat beskikbaar was. Ek moet baie werk op die skerm doen en wil nie noodwendig boeke en koerante ook daar lees nie.”

Fourie is ook heel vlytig en hou haar besig met geselsies, kook, reis, lees en naaldwerk. Haar boodskap aan almal wat haar ken, is om op Kaapsehoop te kom kuier en weer te leer leef.

Fourie sien veral uit na al die nuwe uitdagings en die mense en hul stories wat na Kaapsehoop kom.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Bertus de Bruyn

Bertus de Bruyn is based in Mbombela, Mpumalanga. De Bruyn has been employed by Caxton since 2009. After a short sabbatical of two years, De Bruyn is back at the place he called home, Caxton, at Lowveld Media. He is currently the digital content manager, but has 14 years of journalism skills, news editor, and acting editor duties behind his name.
Back to top button