Local news

Mbombela-inwoners bekommerd oor kwynende pougetalle

West Acres-inwoners is bekommerd oor die afname in hul geliefde poue en pleit dat die oorblywende voëls beskerm word.

Raak aan West Acres se poue en jy raak aan die harte van die buurt se inwoners.

Die kleurvolle voëls, wat veral in die omgewing van Saffier Crescent, Coffee-, Percy Fitzpatrick- en Teastraat gesien word, was die afgelope week weer in die kollig nadat een dood aangetref is.

’n Foto van die dooie pou is op die West Acres-gemeenskaps-WhatsApp-groep geplaas en het talle reaksies ontlok. Inwoners was bekommerd dat die voël moontlik vergiftig of geskiet is.

‘Dit is óns poue’

’n Besorgde inwoner, Sue Kennet, het die karkas na die Nel Acres-dierehospitaal geneem. Die pou was reeds in ’n gevorderde stadium van ontbinding, maar geen skietwonde is gevind nie.

“Ek geniet al die afgelope 10 jaar die poue se teenwoordigheid en beskou hulle as deel van ons gemeenskap. Ek is seker ek kan namens byna al die inwoners sê: dit is óns poue.

“Sedert hul tuiste vernietig is, is hulle vir kos en water van die omliggende gemeenskappe afhanklik. Toe hul getalle tot slegs ’n paar afgeneem het, het ek bekommerd begin raak oor hul welstand.

“Ongelukkig het ons een dooie mannetjie gevind. Ek het hom na die Nel Acres-dierehospitaal geneem vir ’n nadoodse ondersoek. Hoewel die uitslag onduidelik was, is bevestig dat hy nie geskiet is nie.

“Ek is steeds bekommerd dat mense hulle dalk vang, aangesien hulle baie mak is. Ons is lief vir ons pragtige voëls. Dit is ’n voorreg dat hierdie manjifieke diere in ons tuine tuis voel,” het Kennet gesê.

Poue se voormalige tuiste vernietig

Laevelder het voorheen berig oor die poue se dwestydse tuiste in die buurt, wat deel was van ’n klein lushof waar wilde diere aangehou is.

LEES OOK: Daaglikse verskyning van poue in Mbombela uiteindelik ontrafel

Inwoners wil die poue beskerm

Nog ’n inwoner wat verkies om anoniem te bly, het passievol aan Laevelder vertel wat die poue vir haar beteken.

“Ek woon al meer as twee dekades in West Acres en geniet die rustigheid van ons buurt. Iets anders waarvan ek nog altyd gehou het, is om by die venster uit te kyk – of rond te ry – en poue tussen ander diere te sien. Deur die jare het hulle dikwels maande lank in my erf vertoef en groot vreugde vir my gebring.

“Dit is hartseer dat hierdie prag besig is om uit West Acres te verdwyn. Ek was diep hartseer toe ek hoor van die pou wat dood gevind is. Dit het presies gelyk soos die een wat van einde Augustus tot begin November in my erf gebly het. Ek was so lief vir hom dat ek selfs ’n kinderliedjie oor ’n pou vir hom gesing het.

“Ek wens ons gemeenskap kon geld insamel om ’n veilige omheining vir die oorblywende poue in die oop ruimte in Percy Fitzpatrick-straat op te rig. Ons moet hulle koester sodat ons kinders en agterkleinkinders ook hierdie skoonheid kan ervaar. Ons is bevoorreg om sulke pragtige voëls in ons buurt te hê,” het sy gesê.

Een ding is seker: Die poue van West Acres is veel meer as net besoekers aan inwoners se tuine. Hulle het deel van die buurt se identiteit geword, en hul kenmerkende roepe en teenwoordigheid word deur die gemeenskap gekoester.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Bertus de Bruyn

Bertus de Bruyn is based in Mbombela, Mpumalanga. De Bruyn has been employed by Caxton since 2009. After a short sabbatical of two years, De Bruyn is back at the place he called home, Caxton, at Lowveld Media. He is currently the digital content manager, but has 14 years of journalism skills, news editor, and acting editor duties behind his name.
Back to top button