Coenie de Villiers bekoor Laevelders met Kersmusiek
Laevelders het tydens Coenie de Villiers se Kerskonsert by NG Kerk Nelspruit-Suid ’n voorsmakie van ’n somer Kersfees gekry.
Die bekroonde Afrikaanse liedjieskrywer en sanger, Coenie de Villiers, het op 18 November sy Kersfees met Coenie-konsert by die NG Kerk Nelspruit-Suid aangebied. Met kerse op die verhoog en die akoestiek van die kerk was dit ‘n spesiale musikale ervaring.
LEES OOK: Drie afgetrede polisiebeamptes verbind met Vlakplaas-moord in 1991 verskyn in Nelspruit-hof
De Villiers het met sy kenmerkende skerp humorsin die stories agter sy liedjies met die gehoor gedeel. Kersfeesgunstelinge soos “Somerkersfees”, “Stille Nag” en “Little Drummer Boy” het die gehoor behoorlik in die feestelike stemming gebring.

Sy wêreldklas-klavierspel was só indrukwekkend dat ‘n mens ‘n speld kon hoor val terwyl hy die laaste note gespeel het.
De Villiers het weer eens bewys waarom hy as een van Suid-Afrika se mees geliefde kunstenaars gereken word. Hy het die vertoning met sy gewilde lied “Karoonag”, afgesluit.

Die gehoor was egter nog nie gereed om totsiens te sê nie en het luidkeels om ‘n toegif geroep. De Villiers het gehoor gegee en die Laevelders vir oulaas met sy indrukwekkende klavierspel en magiese stem bekoor.
