Jy dink met jou kop, maar doén met jou hart
Ek oordeel asof ek in 'n glashuis bly. Asof ek te alle tye nugter oor 'n situasie dink. Ek doén. Ek is deeglik bewus van die gevare verbonde aan my besluite, maar ai, as Cupido se pyl eers jou hart deurboor het, is dit moeilik om die regte afdraai te kies

Hoe ver sal jy gaan vir liefde?
Sal jy jou eie morele waardes prysgee in die hoop om wáre liefde te vind? Waar trek jy die streep?
Ek is mal oor die reeks House of Cards met Kevin Spacey en Robyn Wright in die hoofrolle. Hulle verhouding is soos Shakespeare se Macbeth. Albei het hierdie hunkering na mag en stóók mekaar in hulle kwaad om dit te bekom.
Okei, hulle is seker nie die beste voorbeeld nie, want hulle streef na dieselfde doel. Ek praat van wanneer jy iets doen wat jou van jou eie morele kompas laat afwyk met die hoop om ‘n vriendskap en/of romantiese verbintenis te bewerkstellig en/of te behou.
Behels elke verhouding nie tog maar opoffering nie? Die Ingelse het so ‘n mooi woord daarvoor – compromise. Jy vertel maar daardie leuen, bly eerder stil wanneer jy eintlik iets moes sê of kyk anderpad.
Ek bevind my tans in só ‘n situasie. Ek wéét ek moet links afdraai ten einde myself die hartseer te spaar, maar die pad na regs beloof soveel opwinding en avontuur. Ek weet egter ook dat die pad na regs eindig in ‘n cul de sac, ‘n sogenaamde doodloopstraat.
*Lisa is ‘n vriendin wat op ‘n ramp afstuur met haar vernietigende gewoontes. Sy reis tans op die N17 en is vas oortuig dat sy in die lieflike Kaapstad gaan opeindig. Ek weet egter dat die N17 jou na die dorre Ermelo lei, maar sou ek noú iets sê, gaan ek dié vriendin vir altyd verloor.
*Renette word oorlaai met geskenke deur ‘n baie welgestelde * Lukas wat in haar belangstel. Ons oë rek en monde hang oop in aanskoue van dié spandabelrigheid. Hoewel Renette dit duidelik gemaak het dat sy net vriende wil wees, dra Lukas net aan. Natuurlik voel Renette gevlei deur dié aandag. Die regte ding sou wees om die geskenke van die hand te wys, maar wie kyk nou ‘n gegewe perd in die bek? Nie eens ‘n middagete is deesdae verniet nie en ek is bevrees dat Lukas later sy pond vleis gaan eis.
*Johannie het onlangs dinge verder gevoer met *Stephan. Sy is al geruime tyd verlief op hom, maar hy was lank in ‘n verhouding met iemand anders. Stephan het onlangs dié verhouding verbreek en het nog baie seer. Hy beskou Johannie bloot as afleiding en het haar gewaarsku dat sy nie hoopvol moet wees oor ‘n toekoms saam met hom nie.
Maar dalk, net dalk, raak hy verlief op haar. In hierdie situasie het ek my ook al bevind. Ek weet dus dat besorgde vriende se waarskuwings op dowe ore val. Dit is hoekom ek nie vir Johannie gaan maan om eerder links te hou en regs verby te steek nie. Dis ‘n “ongeluk” wat sy self sal moet maak. Sou sy nie hierdie (onvermydelike) seer sélf ervaar nie, sou sy altyd gewonder het. Wat ás sy gebly het? Dalk, net dalk, sou sy oë oopgegaan het en hy sou besef dat sy die liefde van sy lewe was.
*Charlene het met *Chris getrou. ‘n Regte suiplap sedert die begin van hulle verhouding. Charlene sou hom aanspreek oor sy gedrinkery, maar dit het net elke keer in ‘n slordige bakleiery ontaard. Sy het toe eerder stilgebly. Dit is nie dat sy Chris se alkoholmisbruik aanvaar het nie en sy het met hom getrou, oortuig dat hy as verantwoordelike eggenoot en gesinsman, die bottel sou los. Hy het nie.
Albert Einstein het gesê: “men marry women with the hope they will never change. Women marry men with the hope they will change. Invariably they are both disappointed”.
Ek oordeel asof ek in ‘n glashuis bly. Asof ek te alle tye nugter oor ‘n situasie dink. Ek doén. Ek is deeglik bewus van die gevare verbonde aan my besluite, maar ai, as Cupido se pyl eers jou hart deurboor het, is dit moeilik om die regte afdraai te kies.
Dalk is die geykte uitdrukking – die liefde is blind – hier van toepassing. Dalk is dit eerder ‘n geval van dat jy juis met oop oë die gevaar tegemoet gaan.
*Skuilname.
