BlogsOpinionVryerige Vrydae

Wees ‘n man – kyk haar in die oë en sê dit

As ons nie eens die moed het om ons opgewondenheid, vreugde of liefde vir mekaar van aangesig-tot-aangesig te verklaar nie, hoekom sal ons iemand in die oë kyk om hulle seer te maak?

Netwerk24 het hierdie week ‘n peiling onder sy lesers gedoen om vas te stel of dit vir hulle aanvaarbaar is om kêrels of meisies per SMS af te sê. Dit het my noodwendig aan my eie ervarings laat nadink.

Ja, ek self was ‘n slagoffer van dié manier van afsê. Ek het op daardie stadium gedink hy is die liefde van my lewe, maar hy het my, na ‘n verhouding van agt maande, per SMS laat weet dat hy nie dieselfde voel nie. Ek sal die bewoording nooit vergeet nie: “ek dink ons moet halt roep”.

Pateties. Lafaard.

Toegegee, ons het daardie laaste twee maande oor ‘n lang afstand (tussen die destydse Nelspruit en Pretoria) gevry en hy kon nie daar en dan my hart van aangesig-tot-aangesig breek nie. Ek voel egter dat hy dan moes wag totdat ons mekaar weer gesien het. Het ek dus van hom verwag om ‘n leuen te leef vir ‘n week langer, of selfs twee? Ja! So eenvoudig soos dit.

Ek is die eerste om te erken dat ek konfrontasie haat en dit vermy soos ‘n Steve Hofmeyr-konsert, maar komaan, wat reg is, is reg. Ek self het al twee verhoudings verbreek en het die (slegte) nuus telkens persoonlik oorgedra.

Vaughn Jacobs het ‘n interessante siening op Netwerk24 gedeel: “as julle kan ontmoet deur ’n selfoon en kan flankeer deur ’n selfoon, hoekom nie ook opbreek deur ’n selfoon nie?”

Dié man het ‘n punt beet. Dis dalk hoeka die probeem!

Jy hoef nie eens meer die foon op te tel en te bel om iemand uit te vra vir koffie nie, wat nog te sê in dieselfde vertrek wees. Dink daaroor. SMS, Whatsapp, Facebook… Dit alles is besig om ons kommunikasievermoë gruwelik te strem.

Laat ek verduidelik aan die hand van die volgende voorbeeld:

Blog2

Jy sal saamstem dat die reaksie in die groen blokkie baie positief is. Dit spreek van opgewondenheid. Hierdie girl kan duidelik al haar ongebore kinders in die ou se oë sien en is al besig om kussings by Mr Price Home uit te soek vir hulle sitkamer. Dit lyk goed. Op papier. Oftewel, skerm.

Die realiteit kan dalk net mooi die teenoorgestelde wees, vir al wat jy weet. Maar jy sál nie weet nie, want daar is nie lyftaal of ander vorme van nie-verbale kommunikasie wat hierdie boodskap vergesel nie. Sy kon dalk haar oë gerol het by die lees van jou boodskap en dink: “urgh, tog net nie dié ou nie. Aaaaag wat kan ek tog sê om uit hierdie een te kom? Ag, dalk moet ek tog net gaan. Ek gaan immers ‘n gratis ete score.”

Kom ons kyk na die tweede voorbeeld:

Blog1

Die sender van die boodskap in die wit blokkie is ‘n vrou. Sy en ‘n ou was op hulle tweede of derde date na Jock vir drankies sodat sy hom aan haar vriende kon voorstel. Sy het dit terdeë geniet. Hy het ook, maar sal dit nooit erken nie.

Vir al wat ons weet, wou die ou ook uit die dak spring van ekstase met die lees van haar boodskap. Hy weet reeds dat hy net Sondagmiddag by sy ouers gaan eet en die res van die naweek oop het om hierdie meisie beter te leer ken. Helaas. Sy mag tog net nie agterkom dat hy óók positief is oor die vooruitsig van ‘n moontlike verhouding nie ….

As ons nie eens die moed het om ons opgewondenheid, vreugde of liefde vir mekaar van aangesig-tot-aangesig te verklaar nie, hoekom sal ons iemand in die oë kyk om hulle seer te maak?

Die hartseer waarheid egter, is dat ‘n afsê per SMS juis dieper wond weens die onpersoonlikheid daarvan. Dit laat jou met ‘n gevoel van só ‘n waardeloosheid – dat jou maat dit nie eens nodig geag het om in sy kar te klim en jou self te kom sê nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button