Groenewald sak vanaand op agt
Lambert Groenewald draf vanaand teen die DHL Westelike Provinsie in die sewende kwalifiserende ronde van die Curriebeker, in die nommer agt-trui vir die Steval Pumas uit.

Groenewald het nog nie die seisoen op agsteman gesak nie. Hy word gewoonlik as flank gekies.
Die hemelbesem sou teen die Welwitschias op agt uitgedraf het, maar weens Marnus Schoeman wat op die laaste nippertjie moes onttrek het, het Groenewald op flank begin en Carel Greeff op agt.
Hy speel vanaand in die plek van Greeff wat na die plaasverangersbank skuif en Nardus van der Walt sal op sewe begin.
Die loskopstut, Simon Westraadt het ‘n skouerbesering verlede week teen die Vodacom Blou Bulle opgedoen en die spanbestuur moes ‘n noodgedwonge verandering maak met De-Jay Terblanché wat sal begin.
Jacques Kotze, wat sy debuut vir die Pienktruie in Pretoria gemaak het, is weer deel van die Pumasbreier, MJ Mentz se 22-tal en sal Terblanché moontlik die tweede helfte kan vervang.
Frank Herne skuif vir vanaand se wedstryd plaasvervangersbank toe met Francois du Toit wat in die beginspan sal opdraf. “Om op ons momentum voort te bou, sal ons moet fokus op die volgende wedstryde wat vir ons voorlê.
“Dit was ‘n moeilike ontmoeting in Pretoria die afgelope naweek, maar ons is reg vir hardlooprugby vanaand op Mbombela Stadion,” sê Mentz.
