
Daar is ‘n eerste keer vir alles en verlede Woensdagmiddag het die sweet die spelers behoorlik afgetap toe Laeveld Akademie se netbal- en rugbyspanne vir die eerste keer teen Uplands College kragte gemeet het.
Laeveld Akademie het met mag en mening hulle staal op beide die netbalbaan en rugbyveld gewys. Alhoewel die twee spanne verloor het, was hulle gewis geïnspireer om volgende keer beter te vaar.
Die rugbyspan het teen die o/16A’s deelgeneem, maar hulle was beslis gefokus en hulle agterlyn het goed saamgewerk.
Die skrums was meestal in hulle guns en het die lynstane met gemak gewen. ‘n Gebrek aan ondervinding was die enigste nadeel, maar die blootstelling is goed benut.
Oor ‘n paar maande gaan hierdie seuns en dogters opspraak maak, sê van die trotse ouers wat langs die veld hulle kinders aangemoedig het.
