School sportSport

NHS se o/16’s klop Rustenburg in Tuksreeks-eindstryd

Die o/16A-seunshokkiespan van Hoërskool Nelspruit het vyf van hulle ses wedstryde van die Tuksreeks gewen en so ook die toernooi as die algehele wenners afgesluit.

NHS het in die eindstryd op die Universiteit van Pretoria se sportgronde teen Rustenburg te staan gekom en was met 2-1 baas. Die seuns het in die eerste ronde teen die einste Rustenburgers 1-2 vasgeval.

Daarna het NHS 7-0 teen Florida op laasgenoemde se tuisvelde gewen en in die laaste groepwedstryd Hoërskool Pietersburg 2-0 geklop. In die kwarteindstryd het NHS 2-0 met Transvalia afgereken en in die halfeindstryd Hoërskool Garsfontein van Pretoria net-net 3-2 verslaan.

“Ons het gehoop om die seisoen op ‘n hoogtepunt af te skop, maar die manne van Rustenburg het ander planne gehad. Na die wedstryd het ons ‘n spanboukamp gehad om die spelers se moed op te bou. Die doel was om die span se waardes neer te lê. Ons harde werk is beloon teen Florida, maar ons het geweet daar het nog baie werk voorgelê. Na Pietersburg was daar net drie trappies oor om te klim,” vertel die afrigter Jaco Smith.

Die span was angstig oor wie hulle in die eindstryd gaan ontmoet. “Die eerste wedstryd teen Rustenburg het oor en oor in my kop gemaal. Ek lees toe ‘n stuk uit Dan Carter se boek waar hy praat oor die All Blacks se nederlaag teen Frankryk in die kwarteindstryd van die 2007 Rugby Wêreldbeker en die ophou teen die Hane in verlede jaar se WB. As span het hulle besluit hoe hulle die situasie kan sien, en ons het dieselfde gedoen: maak die foute wat ons begaan het, reg.

“Die dag van die eindstryd, kon ek in die span se oë sien dat hulle harte honger vir daardie trofee is. Dit was ‘n baie emosionele wedstryd met hoë intensiteitspel met ‘n groot fisiese komponent. Ons het twee vinnige doele geskiet. Rustenburg het hulle punt deur ‘n strafhou aangeteken. Die doelwit vir die toekoms is om die Mpumalanga-liga te wen om sodoende ons plek na die Noordvaal-eindstryd oop te speel.”

As afrigter, vertel Smith verder dat hy net goeie hokkie van die seuns verwag en dat hy nooit die span sal vergeet nie. “Julle is verewig in die ererol van my hart geskryf.”

Uitslae van die kleinsportsoorte (NHS):
• Gholf – tweede
• Tennis – tweede
• Muurbal – tweede
• Skaak – negende
• Landloop – sewende.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button