Jy kan hulle nuutste CD wen! Beantwoord die volgende vraag: Wie speel die tromme in die musiekgroep? Stuur jou antwoord na carli@lowvelder.co.za

Die vioolspeler Herman Steyn was nog ‘n lid van die uiters gewilde en bekroonde DNA Strings toe die eerste saadjies vir Sheraaz geplant is. Dié sanger-liedjieskrywer en multi-instrumentalis kan ook die kitaar, klavier en ukelele bespeel en het mettertyd ‘n voorliefde vir “World Music” begin ontwikkel. DNA Strings het in 2008 ontbind en Steyn het in Suid-Korea gaan woon waar hy musiek vir kinderteater geskryf het. Met sy terugkeer na Suid-Afrika het hy en Annelene Grobler (van die Noot vir Noot-orkes) met Sheraaz begin.
Grobler het intussen die groep verlaat, maar Steyn het vir die slaginstrumentalis Kgaogelo (KG) Makgata as lid van die produksiespan vir die musiekspel Ester leer ken. Verlede jaar het die kitaarspeler Timo Brown en die tromspeler Michael-John Anderson aangesluit. En sedert die begin van die jaar is Anel Truter, wat saam met Steyn in sy kerk se musiekspan speel, die nuwe baskitaarspeler.
So kon Sheraaz pas debuteer met die album, The Traveller, waarvoor Steyn die meeste van die instrumentale snitte geskryf het. “Ons neem die luisteraar op ‘n musikale rit deur die wêreld. Ons album is nie net Ierse of Spaanse musiek nie, maar so ‘n bietjie van alles. Ons neem die luisteraar ook na plekke soos Hawaii, Ierland, die Verre Ooste en natuurlik Afrika.”
The Traveller is ‘n vuurwarm akoestiese album waarop veral Steyn se roerende vioolspel die pas aangee. Dit is allesbehalwe suikersoet of deur elektroniese foefies aangedryf. “Daar is iets vir almal op die CD. ‘n Mooi tango-snit, soos El Passionato, vir die ouer mense. ‘n Lekker Ierse rockmelodie (Toss The Feathers) met elektriese kitare vir die jonger garde.” Om dan nie eens van die swewende Whales te praat nie – ‘n magiese stuk wat klink asof die luisteraar saam met die groep musikante onder water swem!
Steyn erken dat hulle lank gesukkel het om op die regte naam te besluit. “Toe eendag sê iemand: ‘wat van ‘n wyn? Mense hou van wyn!’ My gunsteling-wyn is ‘n shiraz en toe speel ons met die spelling daarvan. ‘n Man uit Indië het ons eendag entoesiasties gekontak. Sy naam is Sheraaz, en hy was opgewonde dat ‘n groep na hom vernoem is. Ons vra toe wat die naam beteken en hy antwoord toe ‘uniek’.”
As musiekregisseur en musikant was Steyn al betrokke by verhoogproduksies soos The Buddy Holly Story en dan die onlangse musiekspele Ester en Dawid. Hy bestuur Sheraaz en ook ander musiekprojekte vanuit sy studio in Hatfield, Pretoria.
“Ons wil graag mense op ‘n vreugdevolle en toeganklike manier blootstel aan verskillende kulturele geure. Ons wil wys dat ons verskille as mense mooi en uniek gevier kan word.”
Sheraaz se The Traveller is ‘n musiekpartytjie van die suiwerste gehalte. ‘n Volbloed- akoestiese feestelikheid waarvan die hart warm Suid-Afrikaans klop. En dis bowenal uniek!
