JUBA – skop uit jou skoene
Jy kan hulle nuutste CD wen! Beantwoord die volgende vraag: Wat is die snit se naam waar 'n pa vir sy dogter sing? Stuur jou antwoord na carli@lowvelder.co.za
Die twee Joubert-broers sing al bykans 18 jaar saam, maar dit het heelwat motivering en oortuiging van familie en vriende vereis om hulle tot die professionele musiekmark te laat betree. As Juba (‘n noemnaam vir Joubert) maak Adriaan en Martiens op hul splinternuwe album, Skop uit jou skoene, sprankelende liedjies wat in ‘n kits onder die vel inkruip.
Bakbatboogie (voorheen deur Snotkop opgeneem) is in 2010 met ‘n Tempo-toekenning bekroon en Veerboot in Parys – albei skeppings uit Martiens se pen – het die Angel Music Studio Production se liedjieskryfkompetisie op Facebook gewen. Juba kan pop- en rockmusiek met ‘n volwasse kontemporêre-aanslag vermeng en boonop hoogs verslawende dansritmes en selfs ‘n moderne skeutjie boeremusiek bedrewe byeenbring.
“Ons maak gesinsvriendelike musiek en daarby is ons in alles wat ons aanpak, positief,” vertel Martiens. Op Liewe Mandela sing die broers immers: “Kan ons nie mekaar net respekteer, en bietjie-bietjie by mekaar ook leer. Staan net saam en hou op kla, ons vir jou Suid-Afrika!”
Botterbekkie is ‘n opgeruimde dansliedjie wat ‘n pa vir sy dogter sing, terwyl Vader Tyd weer die heimwee en nostalgie aanwakker. 10 uit 10 gaan weer op enige dansvloer die vonke laat spat!
Skop uit jou skoene is immers ‘n album wat geensins in ‘n kassie geplaas kan word nie. Ballades en liedjies wat breëbors van ons sonnige land, sy mense en hul lot vertel, nestel tussen die voetejeuk-deuntjies en selfs ‘n hartroerende juweeltjie soos Oupa met Martiens se dogter, Elné, wat jonk en oud se harte warmer sal laat klop.
Al is Martiens ‘n liedjieskrywer van formaat en kan hy die klavier en trekklavier met oorgawe speel, is hy ‘n skaap- en beesboer in die Waterberg-distrik. Adriaan, die jongste van sewe Joubert-kinders, het besluit om sy loopbaan as onderwyser by Affies opsy te skuif vir ‘n fyn balans tussen musiek maak en onderwys gee. Hy is die een wat alles tydens die verhoogoptredes gee en sy sjarme en stem tot die uiterste benut, al tap die sweet hom af!
“Ek wou graag ‘n positiewe boodskap met substantiewe lirieke en mooi melodieë oordra aan enigiemand wat daarna luister,” verduidelik Martiens sy doel met die album, wat vir hom ook nostalgie in ‘n ligte luim bied.
Juba was van plan om die album eers Boer in beton te noem – ook die titel van een van die album se liedjies, wat geensins met Koos Kombuis se gelyknamige treffer verband hou nie. “Van my vriende tydens ons studentedae was boere se seuns wat in die stad kom studeer het en om die een of ander rede nie kon of wou teruggaan plaas toe nie. Spyt kom altyd te laat. En na ‘n paar jaar se werk in stad verlang enigiemand terug na die rus en vrede van die idilliese platteland,” gesels Martiens wat nog nie Kombuis se lied gehoor het nie.
Skop uit jou skoene is ‘n tydlose album wat hom nie aan tendense of kits-resepte steur nie. Dit is ‘n sit-rustig-agteroor-uitreiking wat uit alle musikale oorde bekoor. Juba is ‘n talentvolle tweetal wat oorloop van die oorspronklikheid en reeds met hierdie versameling van elf liedjies bewys dat hulle nou al van Afrikaanse se blinkste sterre is!