EntertainmentLifestyle

Verfrissende vertolking van Groot Trek

Gera Phelix bied a vrefrissende blik op die Groot Trek.

NELSPRUIT – Ons het onlangs Nasionale Erfenisdag herdenk, of is dit nou Braaidag? Wat ook al – laasgenoemde het egter in ‘n hele politieke debat ontaard.

Verfrissend was dit toe om Gera Phielix se eenvrouvertoning Trek in die burgersentrum onder oë te kry.

Dié opvoering vertel die verhaal van vier Voortrekkervroue – Magdelene, Hester, Johanna en Kleintjie uit verskillende generasies, wat ten spyte van al die fisiese uitdagings van ‘n ossewa trek, ook nog hulle eie drome, verwagtinge, geheime liefdes en mekaar se persoonlikhede elke dag moes behartig.

“My regisseur Jacques Bessinger het met die gedagte vir die toneelstuk vorendag gekom,” sê Gera. “Ek het nege maande lank die agtergrond nagevors, musiek geskryf en gekomponeer en ja, dit blyk dat veral die jeug dit baie geniet.”

Hoekom, vra ek haar? “Ek dink die outensiteit en integriteit van elke karakter is sodanig dat mense werklik op ‘n sielsvlak daarmee kan assosieer. Daar is weliswaar paralelle waarmee hulle hulself kan vereenselwig.”

Gera se vermoë om in ‘n oogwink van die een na die ander karakter te spring met die gepaardgaande lyftaal, is eenvoudig dinamiese kunsgimnastiek. Dit is asof ‘n mens se persoonlike ervaring met jou kinders, ma en pa, oupa en ouma, by tye jou op die skouer klop en sê: maar kyk nou net wat doen jy!

Op die trek moet die vroue nou ook nog ‘n troue reël en klere maak. Kouse word vir garing uitgerafel en so nou en dan gryp die oumense na die snuifblikkie terwyl die dogter Magdelene droom oor skelm in ‘n watergat swem – en in Voortrekkergewaad en al – bid jou dit aan, né?

“Die lewe is ‘n gevaarlike geskenk,” uiter Gera die woorde en onmiddellik is my gedagtes ‘n warboel om ‘n fokuspunt vir dié stelling te regverdig, maar oomblikke later roep sy die osse, Somer en Geelbek tot orde en my gedagtes is terug by die eenvoudige stel en eerlikheid in haar spel. Dit is soos swart-en-wit-fotografie dink ek – geen fieterjasies nie – op die man af, menslik en opreg.

Sy beskou haarself eerstens as ‘n musikant en dán aktrise. Die bygaande musiek het my by tye hoendervleis gegee.
Dit is lewendig misterieus – dit roep na die sterrehemel en die wese daaragter – want sekerlik sou die vroue nie oorleef het was dit nie vir God se genade nie.
Trek se karakters is volrond. Hulle bied ‘n spieël waarin ons kan kyk en ervaar – hulle is verwyder van die politiek van vandag maar tog – the more things change, the more it stays the same!

Wanneer die stuk Innibos toe kom – moet julle dit nie misloop nie. Gryp daai Bloodyberries (Blackberry-fone) en bespreek vroegtydig al julle kaartjies.

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button