’n Avontuur met lekker paaie en mooi mense

Van 26 jaar tot 68 jaar met die gemiddeld so ongeveer 50, van HP4 tot 250 Ninja, cruiser tot spoedvraat, ingetoë tot raserige gladdebek, van die Kaap, Vrystaat, Noordwes, Limpopo en Gauteng en van swartkop, brunet, blond, rooikop, grys tot pers en pienk - dis hoe ons daar uitgesien het, ‘n dolle diverse groep, die gemene deler ons groot liefde vir ons motorfietse en op pad berge toe.

Uitsien is een ding, inpak nog ene, en dan breek 27 Augustus uiteindelik aan – die uitsien en inpak iets van die verlede en die hede. ‘n Heerlike heerlikheid, dis nou as mens nie die aand voor die tyd jou Sena oortjie verbete moes soek net om haar nooit te kry nie. In jou gemoed dank jy jou wederhelf, die goedhartigheid self, wat sy Sena aangebied en ingestel het. Van goedhartigheid gepraat – die naweek het weer gewys, bikeresse het almal groot harte.

Nou, na die toer protesteer my ou lyf hard en luid. My linkerskouer het haar heel vir my opgeruk en dring aan op sterker verdowing as wat ek tot nog toe bereid was om te gee. As mens jonk is loop verniel jy jou lyf op die sportvelde van skole en tersiêre instellings behoorlik, net om op
60 te besef… ek moes nooit. Ieder geval, ek sukkel eerder met ‘n pyn hier, ‘n skeet daar as met ‘n luide lawaaierigheid in my kop.

Nou eers die begin van ons storie. Kort na Januarie 2015 het ons die toer begin aanvoor, maar toe Annalie die pad begin ruik, het sy soos ‘n wafferse renperd die stang in haar mond gegryp, die organisasie oorgevat en op volle galop laat waai. En watter wonderlike laat waai was dit nie! Niks is aan toeval oorgelaat nie, behalwe vir die een ou verdwaaltjie het die res van die naweek se ritte seepglad en sprokie mooi verloop en dit was geen maklike taak nie, want almal van ons ry soos die wind, sommige soos ‘n warrelwind, ander soos ‘n stormwind, nog ander soos die Mistral en heelparty soos ‘n ligte somers bries teen skemeraand. Dit het baie kophou en soms bek-hou en gereeld duime-hou, dis bid in my taal, gevat om die klomp winde in ‘n veelkleurige lugballon saam te snoer en op koers te hou. Die toer wat in 2014 met so ongeveer 19 dames, waarvan net 14 op bikes begin het, het hierdie jaar geblom, 24 dames met hulle agterente op hulle se eie bikes en ons pragtige Nats en Melinda in die baas van CMA se bakkie – nee, ek weet nie hoe sy dit reggekry het nie.

Lindri Stander, Alida Pienaar, Annelie Badenhorst,  Annalie Jacobs, Janine Olivier, Natalie Changuion, Kenau Muller, Elize Jamieson, Karen Ann Watson. Foto’s: Rachel Sonntag
Lindri Stander, Alida Pienaar, Annelie Badenhorst, Annalie Jacobs, Janine Olivier, Natalie Changuion, Kenau Muller, Elize Jamieson, Karen Ann Watson. Foto’s: Rachel Sonntag

Ek kry sommer so met die wegspring al die noue ontkomings en ontberinge uit die pad. Die legioen engele wat ons van God gevra het, het behoorlik moes skarrel om ieder en elke een van die pragtige dames veilig te hou. Maar ek glo dit was die engele se plesierige voorreg om die naweek saam te piekel. En dan die vier “nite riders” se ompad Barberton toe, Lydenburg langs van Sabie af. Almal het vertel dat hulle graag die Longtom wou ry, maar nie twee keer op een dag nie. Die tweede rit in die nagdonker, terwyl die hemelruim ‘n laser-vertoning van formaat gelewer het.

Hulle het donker draaie, donderstorm, reën en nat lyfies trotseer, maar toe ons hulle in Nelspruit kry, was daar nie ‘n sweempie vrees of suur te bespeur nie. Ek salueer Charmaine op haar baba-Kawa (250 Ninja), wat sommer vermakerig voor gevat het, Alison (jip nog ‘n keer), Madelain en Rachel op hulle reuse Harley Davidson’s vir ‘n amper onbegonne taak uitstekend afgehandel. Ek en die pastorie-kinners het lekker in die bakkie voor die span uitgepiekel op heel bedeesde pas, die padverleggings deur, Barberton-pas af en julle weet dissie die maklikste rit nie, tot by ons lêplekkie, die Barberton Gastehuis, waar hulle onder gejuig en applous ontvang is – rateltaai bikers.

Ria de Klerk (1200GS), Lindri Stander (1200 Explorer) en Alida Pienaar (ZX1400).
Ria de Klerk (1200GS), Lindri Stander (1200 Explorer) en Alida Pienaar (ZX1400).

So een en ander oor die pype, ysters, boneys, bikes en vir die puriste, motorfietse. BMW het met ‘n kort kop gewen, Janine en Ria 1200GS, Kenau en Antoinette R1200R, Laura HP4 1000, Marinda F800GSA, Sanet 800ST, Annalie 650GS en Elize wat op nommer 99.99999 besluit het die trip sal haar en haar 650S scooter ook pas. Die Harley Davidsons het ‘n stewige tweede plek ingeneem, Antoinette 883 Sportster, Debbie Street Bob, Gaynor uit die Kaap uit op Debbie se Renier se Dyna Super Glyde, Joyce Dyna Street Bob met Melanie as agterpassasier, Madelain Softtail De Luxe en Rachel 1200 Sportster.

Die uwe het die pad met Sir, die Engelse heer, ‘n Triumph 1200 Explorer aangedurf en tipies Brit het hy ‘n onbeskofte-jaag-streep in hom, terwyl Charlotte en Karen Ann die Britse brigade aangevul het, elk met ‘n 1050 Tiger. Suzuki is verteenwoordig deur ‘n giftige persnommerpas Busa vir Annelie, Alison se Intruder en Theresa se 800 Boulevard, terwyl die mammabeer, Alida se ZX1400 en bababeer Charmaine se 250 Ninja Kawasaki se naam hoog gehou het. Ek verlang sommer na ons blou blits.

Charlotte Maidment, Gaynor Marais, Elize Jamieson en Annalie Jacobs in Kaapsehoop.
Charlotte Maidment, Gaynor Marais, Elize Jamieson en Annalie Jacobs in Kaapsehoop.

Terloops en ”by the way”, om met so ‘n verskeidenheid bikes en persoonlikhede ‘n naweek te laat slaag, sit nie in elke vrou se binnebroek of pêntie nie, maar tog het Annalie haar nie deur die lotte laat afskrik nie. Sy het vasgebyt en deurgedruk, ons “Mountain Run” se karretje het sy met fanfare deur die driffies en oor die opdraandes gesleep. As jy sien hoe sy daai 650GS se oor kan draai, sal dit jou nie verbaas nie – die vrou bang niks.

‘n Paar kristal-oomblikke

• Die ontmoeting by die Petroport toe Marinda van ongeduld rondgetrippel het om die vrolikheid op pad te kry.

• Middagete by die Couch House – hoender ala iets wat baie lekker gesmaak het en ons het amper al hulle nougat gekoop.

• By Mashutti Lodge toe Ria haar so mooi voorstel: “Ek is aan bike-ry verslaaf,” en is ons nie almal nie. Julle en Mashutti is ‘n lekker plek om oor te bly.

• Al die oumas op ‘n ry vir ‘n foto.

• Alida en Annelie en Elize se verkeersreëlings, terwyl ons deur die dorpe moes ry en veral Elize op daai bromponie wat sommer “chicken” met ‘n bakkie in Tzaneen gespeel het – die bakkie se bestuurder het besef, hy gaan nie wen nie en het ewe ordentlik in die middel van die kruising bly wag terwyl die dames verby gespoed het.
Natuurlik had hy ‘n pragvertoning, dus glo ek hy was nie te knorrig om vir ons te wag nie.

• Die string motorfietse bergop en bergaf, om dit te aanskou, te ervaar, bly vir my een groot vreugde.

• Die blitsrit na Hoedspruit na koele lafenis by Letaba Junction. Julle, daai Marinda en Laura en Kenau kan ry! Oor
120 plus BTW seg ek eerder niks nie. Dankie Janine dat jy nie vir my weggejaag het nie. Ek praat ook nie oor die 650’s nie. Hulle het hulle spykerskoene vir die pad ingepak en daai spykerskoene se spykers is stomp gehol.

• Die manjifieke Blyderivierpoortpad al agter die F800GSA aan. Ek weet Marinda se agterent het gejeuk om paar van die Staffie Rally se manne te jaag, maar sy het my in haar spieëltjie dopgehou en die pas net effe warmer as my gewoonte is, aangemaak en die opwinding om deur draaie te swiep en om lang draaie te swaai bly ongeëwenaar in my geheue vasgeëts.

• Pannekoek by Harries bly lekker. Om dit saam met gawe vriende te geniet, nog lekkerder. Dankie aan Gert, Ina en Manie wat moeite gedoen het en laaaank moes wag om saam te kuier.

• Al die mooie en wonderlike paaie wat ons kon ry, maar veral die Saddleback-pas Sondagoggend, die vroegoggendluggie fris teen mens se lyf, die son effe skerper en die draaie effe korter. Met ons aankoms by die uitkyk op die Geotrail het ek met swaar in my gemoed besef, die naweek se vreugde van ry net waar ek wil, het einde se kant toe gestaan.

• Die laaste stukkie draaie-pad Badplaas verby deur die plantasies voor ons by Carolina bymekaar gekom het.
Oor Saterdag se agterryer-ry hou ek my bek ge-zip, doodstil. Ek het gesê ek sal en as jy jou bed gemaak het, slaap jy met stille instemming in daai kooi en basta. Niemand het verdwaal nie en niemand het verkeerd gery nie en niemand moes in die nag van êrgens gehaal word nie. My taak was suksesvol afgehandel, dankie Linnie.

Dankies-dankies-dankies, die lys is net te lank?

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button