Palissander koor bekoor die gehoor
Die Palissander-koor se doel is om musiek te maak wat 'n mens se siel aanraak.

MBOMBELA – Die koor het hulself beslis goed van hul taak gekwyt toe hulle Saterdagaand by die konferensiegeriewe by die Sudwala Grotte opgetree het. Dié kamerkoor het die hele pad van Pretoria gereis en vier vanjaar hul 27ste bestaansjaar.

Hulle was drie jaar gelede in die Laeveld toe hulle wildtuingangers vermaak het met ‘n blitsskare by die Olifantskamp.
Tydens die besoek het hulle ook die geleentheid gehad om die grotte te besigtig. “Ons sing ‘n groot verskeidenheid van musiek; alles van tradisionele Afrika-musiek, koormusiek, gewyde gesange en selfs popmusiek soos ‘Fragile’ van Sting,” sê die koor se dirigent, Sarita Hauptfleisch.

ALSO READ: Sappi Mother’s Day Sunshine Piano Finalists
Aan die einde van die jaar toer die koor ook vir verskeie optredes na die Wes-Kaap waar hulle hoop om fondse in te samel vir die Pionierskool vir blindes. Elke jaar het die koor ook sy eie tema.

“Vanjaar is die tema ‘Boodskap in ‘n bottel’ en ons vertel die storie van ‘n mens se reis met water en watter boodskap hulle van hierdie onbeheerbare massa ontvang,” verduidelik Hauptfleisch. Volgens die koor se bestuurder, Laetitia Crause, toer hulle ook elke tweede jaar oorsee.
Gemeet aan die gehoor se reaksie het hulle die optrede terdeë geniet en sal Palissander weer spoedig met oop arms in die Laeveld verwelkom word.

ALSO READ: Backstage band gets signed by international recording company
