Grafte vertel die verhaal van ’n plek
LYDENBURG - Rondom 2008 en 2009, kort na Steelburger oorgeneem is deur Laeveld Media, het ons moeite gedoen om 'n bietjie die geskiedenis van die dorp en sy omstreke vir die koerant na te vors. Hier moet ek alle eer gee aan my getroue reisgenoot na talle plekke van geskiedkundige aard en kenner van die plaaslike geskiedenis, oom Hans Meyer, wat sedertdien oorlede is.

Dit was sy voorstel om die ryke verlede van die omgewing weer onder die aandag van die lesers te bring. Na meer as ‘n dekade geniet ek dit om die ou stories af te stof en van tyd tot tyd weer hier aan ons lesers te bring.
Lees ook: Mengelmoes van Afrika-klanke lig die plafon
Hulle sê ‘n plek se geskiedenis lê beste opgeteken in sy begraafplaas en dit is soveel te meer van toepassing op ‘n ou Voortrekkerdorp soos Lydenburg. Dit is ‘n plek wat groot geskiedkundige oomblikke en baie omwentelinge in sy bestaan van byna 160 jaar geken het.
Daar was niemand beter om jou die ou begraafplaas onder teen die Dorpsrivier te gaan wys as oom Hansie nie. Hy was ‘n man wat sy streekgeskiedenis geken het en kon gereeld vir ‘n mens nog iets wat byna vergete geraak het gaan wys. Ook sy versameling boeke en dokumente oor ou Lydenburg was ‘n verwysing na gister wat ‘n mens nie sommer oral sou raakloop nie. Eintlik wou ek net gehad het hy moes my gou die graf van Willie Steyn gaan wys. Iemand het my gesê die bekende boereheld lê hier in Lydenburg begrawe. Steyn was een van vyf jong burgers wat as Britse krygsgevangenes op pad na Ceylon van die boot af ontsnap het.
Lees ook: Oudae se goed herleef op Ouwerf
Hulle het na ‘n Russiese kruiser geswem wat hulle vandaar na Europa geneem het. Steyn en sy makkers kon weer na Suid-Afrika terugkeer om verder aan die stryd teen die Engelse deel te neem. Hy het sy ervaringe in 1932 laat publiseer onder die titel “Terug na Kommando”. Later het sy wedervaringe ook verskyn in ‘n boek deur prof. Johan Barnard getiteld “Die Vyf Swemmers”. Ná die oorlog was Steyn winkel- en korporasiebestuurder. Later was hy op Calvinia bode van die hof waar hy afgetree het. Sy tweede seun, Johan, was ’n sakeman en boer in Lydenburg. Sy vader het na sy aftrede hier by hom kom bly waar hy toe in 1946 dood is. Maar later skryf ons meer oor Willie Steyn.
Interessant is dat sy seun sy plaas hier buite die dorp Cherson genoem het. Dit was die naam van die Russiese boot waarop sy pa na vryheid ontsnap het. Maar oom Hansie het my ook die oudste graf hier op Lydenburg gewys – Gabriel Stefanus Maré, gebore in 1790 en begrawe in 1852, skaars twee jaar na die stigting van Lydenburg. Die graf is met die eeufeesviering in 1950 deur die Maré-familie opgeknap sodat dit vandag nog duidelik staan. Die Maré’s was van die eerste trekkerfamilies op die dorp en is vandag nog hier; groot sakemanne soos Gawie Maré, het oom Hansie my vertel. Sulke ou familiegeskiedenisse kan so boeiend wees, ‘n mens wil sommer ‘n hele ding net daaroor navors en skryf! Miskien is dit al gedoen. ‘n Mens moet uitvind.
Die twee tydperke toe Lydenburg die tuiste van Britse militêre garnisoene was, is ook tekenend in die begraafplaas. Dit was eers die laat 1870’s en vroeë 1880’s toe die dorp die basis was vir Anstruther se troepe teen Sekhukhuni en toe weer met Buller se inval in die Oos-Tranvaal met die Tweede Vryheidsoorlog toe die Boere met hulle swaar Longtoms teen Mauchberg uit moes wyk en die Engelse weereens die dorp beset het. Maar hier om Lydenburg in die Steenkampsberge en ondertoe by Pilgrim’s Rest en Sabie het die burgers hakke ingekap. Pilgrim’s Rest is nooit deur die Engelse verower nie en gen. Ben Viljoen, en na hy gevang is, gen. Chris Muller, het die wêreld hier dwarsdeur die oorlog bitter moeilik gemaak vir die veroweraars.
Dit het ook later gebeur toe die Boere die Engelse vrybuiterseenheid, Steinhackers Horse, in die Laeveld so opdraende gegee het. By Fort Pisane naby die teenwoordige Bosbokrand het hulle die Engelse en hulle swart meelopers behoorlik uitgerook. Die Boere wat daar geval het lê vandag ook by die Berg-en-Dal-monument herbegrawe, maar eers is dié wat in die destydse distrik van Lydenburg gesneuwel het, hier begrawe. In die begraafplaas is daar ook die talle Duitse grafte wat getuig van ‘n eens groot Duitse gemeenskap. Die vroeëre Berlynse sendingstasie hier moes baie bygedra het om hulle hier te laat tuis voel.
![]()






