Carma – vir die eerste keer by Clover Aardklop
“Ek sing al vandat ek ‘n stem het.” So sê Carma, Potchefstroomse skrywer en sangeres...
Marianke Saayman
“Ek sing al vandat ek ‘n stem het.” So sê Carma, Potchefstroomse skrywer en sangeres. Sy het al van vier jaar oud af begin klavier speel. “Niemand wou my leer nie, hulle het gesê dis onmoontlik,” sê sy. Tog het iemand haar ‘n kans gegee en so het Carma se musiekloopbaan begin. Klavier is egter net waar dit begin het. Carma gebruik nou haar graad 8 UNISA klavier-kwalifikasie om haar eie liedjies te skryf en te toonset en daar is nou ‘n produksiehuis in Germiston wat die prentjie voltooi.
Hoewel sy in haar kinderjare baie rondgetrek het, het sy uiteindelik besluit om by die NWU-PUK onderwys te kom studeer. Na afloop van haar studies het sy aangebly in Potchefstroom en gee nou skool by Potchefstroom High School for Boys. “Die vier vakansies ‘n jaar help dat ek meer aandag aan my musiek kan gee,” sê sy.
Vandat sy begin studeer het, het Carma baie ernstig oor haar musiek geraak. “Ek het in 2012 besluit om te begin fokus daarop om iewers met my musiek te kom.” Haar professionele loopbaan het afgeskop by die koshuis waar sy aan die ‘Sêr’ deelgeneem het. “Met Sêr ontmoet jy baie mense wat weer ander deure vir jou oopmaak.” Sy het by Fine Things begin optree en het probeer om aan alle sangkompetisies deel te neem. Sy het toe besluit om kontak te maak met The Campbells. “Dit het my gedwing om ‘n demo op te neem, wat nou ook dien as verwysing na hoe ek klink. Hierdie demo stuur ek na almal wat belangstel in my talent,” sê sy. In graad 9 het Carma al begin om haar eerste liedjie te skryf en in 2012-2013 het sy ‘n liedjie in Bloemfontein geskryf wat vandag getoonset, opgeneem en nou Carma se treffersnit is wat op verskeie radiostasies gespeel word. Die liedjie se naam is Sonder Liefde (Dis Jou Keuse). Haar EP, wat binnekort vrygestel word het vyf liedjies op wat bestaan uit drie oorspronklike liedjies en twee covers. Haar treffer is genomineer as een van die top 20 Afrikaanse liedjies in die land.
Carma het tydens die Potchefstroom Lentefees opgetree en gaan vanjaar vir die heel eerste keer by Clover Aardklop optree. Haar vertoning vind plaas op Dinsdag 6 Oktober om 11:00 by die FNB verhoog. Carma sien baie uit na haar eerste Aardklop. Haar volgende groot uitdaging is om skenkings en borge te kry. Tot dusver is sy geborg deur Liana en Piet Meyer van Meyer’s Ranch, wat haar baniere geskenk het en Vonk Musiek wat haar CD’s gedruk het. Carma het reeds twee musiekvideos op YouTube beskikbaar, Don’t know why en Bette Davis eyes. Like haar op Facebook by www.facebook.com/Carma en volg haar op Twitter.



