Entertainment

Laurika Rauch weer te sien by Aardklop

Laurika Rauch gaan hierdie jaar vir die eerste keer in nege jaar by Clover Aardklop optree. Sy gaan vanjaar slegs twee vertonings lewer getiteld Nie as ek sing nie.

Marianke Saayman

Laurika Rauch gaan hierdie jaar vir die eerste keer in nege jaar by Clover Aardklop optree. Sy gaan vanjaar slegs twee vertonings lewer getiteld Nie as ek sing nie. Dit bevat biografiese elemente en neem die gehoor terug na waar alles begin het – na die dae van Miekie, Toemaar die donker man en Nalekokers. Nie net is Potchefstroom en Aardklop feesgangers opgewonde om haar weer op die verhoog te sien nie, maar is ook nuuskierig oor wat agter die verhoog gebeur. Die Herald het bietjie dieper gedelf in die lewe van dié alombekende musieklegende.
1. Beskryf ’n dag wat jy besonder goed kan onthou uit jou kinderdae. Iets met betrekking tot jou loopbaan nou.
“Toe ek tien jaar oud was het ek in ’n kinderkoor, Oom Hannes Uys se Kindersangkring, gesing. Ons koor het een besondere dag na ‘n kerk in die Kaap gegaan waar ons ons tweede album met Oom Hannes se orrelbegeleiding opgeneem het.
“Ek was deel van ’n duet waarin ek met ’n baie asemrige tien-jaar-oud-stemmetjie ‘Josef liewe man van my, help my wieg die kind aan my sy…’ as Maria gesing het! Dit was die eerste keer dat my solostem op ’n ‘plaat’ opgeneem was.”

2. Jy het jare gelede van die Kaap af Gauteng toe getrek. Noem drie hoofredes waarom jy Gauteng verkies?
“Ek het hier wortel geskiet, baie lief geword vir die provinsie en sy mense en kon ‘n goeie lewe hier maak. Die klimaat en die skoonheid van die omgewing is ook redes.”

3. Hierdie jaar sal die eerste keer in nege jaar wees wat jy by Aardklop optree. Kan jy jou vorige Aardklop onthou en was daar iets wat jy spesifiek nooit sal vergeet nie?
“Die gehoor – dis heerlik om vir ’n Aardklop gehoor te sing.”

4. Wat sou jy sê is die beste besluit wat jy al ooit geneem het?
“Om ’n ma te word.”

5. Beste raad wat jy ooit ontvang het?
“Moenie uitstel nie.”

6. As jy kon teruggaan in tyd en iets in jou lewe anders doen, wat sou dit wees?
“Ek kyk nie graag terug nie. Alles wat met my gebeur het, moes met my gebeur het.”

7. As jy ‘n drankie kon drink saam met drie Suid-Afrikaners (enige drie), wie sou hulle wees, en hoekom?
“Karen Zoid, want sy is ‘n mensch en is deesdae omtrent in beheer van die land;
Clinton Lubbe, die regisseur van die DVD van my en Elvis Blue se duetproduksie (waarvan Deon Opperman die verhoogregisseur was) – Hart en See – wat middel Oktober op die rakke sal wees. Hy is goed in wat hy doen en hy gee om.
Riana Scheepers – ek hou van haar skryfkuns en die manier waarop haar kop werk.”

8. Het jy ‘n vreemde stokperdjie of ongewone tydverdryf waarvan min mense weet?
“Ek is ’n slangtemmer — haha! Nee, ek het nie so iets nie.”

9. Wat is jou gunsteling deel van op die verhoog wees?
“Die repetisietydperk vooraf. Die mense met wie ek saamwerk. Die wisselwerking met die gehoor.”

10. Waarna luister jy deesdae om jou te inspireer?
“Goeie raad van mense wat, volgens my, weet van goed.”

11. Wat is jou mening oor hedendaagse Afrikaanse musiek?
“Ek luister na alles en geniet alles.”
Moenie Laurika Rauch by Clover Aardklop 2015 misloop nie. .

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button