Western Vikings en Tuks Bulls maak geskiedenis in Potch
Rugby geskiedenis is verlede naweek in Potchefstroom gemaak toe Potchefstroom Dorp Rugbyklub se Leaguespan die Western Vikings vir ‘n amperse “Japan” verrassing gesorg het! Die onervare span wat in die Super Liga van Rugby League speel, het so amper amper die kous oor die kop van die magtige Tuks Bulls getrek as dit nie vir …
Rugby geskiedenis is verlede naweek in Potchefstroom gemaak toe Potchefstroom Dorp Rugbyklub se Leaguespan die Western Vikings vir ‘n amperse “Japan” verrassing gesorg het!
Die onervare span wat in die Super Liga van Rugby League speel, het so amper amper die kous oor die kop van die magtige Tuks Bulls getrek as dit nie vir twee gruwelike flaters voor hul eie doellyn was nie.
“ In Rugby League taal is ’n telling van 42-32 nie ’n skande of ‘n pakslae nie. Dis ’n vinnige spel waar min geskop word en dodelike verdediging uiters belangrik is. Inteendeel, die span van Tukkies domineer die afgelope drie jaar die Rhino of Super kompetisie en die besoek van die Tuks Bulls aan Potchefstroom sal liefs so spoedig moontlik deur die Pretorianers vergeet wil word,” sê Jan Prinsloo, provinsiale voorsitter van Rugby League in Noordwes na afloop van die harde wedstryd.
Dit is onder meer deur die ere-beskermheer van Potch Dorp Rugbyklub en die uitvoerende burgemeester van Tlokwe Munisipaiteit, rdl. Kgotso Khumalo bygewoon.
“Dankie manne dat julle bereid was om ons vandag te kom wys maak. Dit was ‘n harde wedstryd en ons kan almal trots wees vandag. Ons het geskiedenis gemaak,” het die Vikings afrigter, Pieter Jordaan gesê.
Tukkies was self ook vol lof vir die Potchefstromers wat met hart en siel gespeel het. Potch Dorp Rugbyklub is ook die tuiste vir die Western Warthogs provinsiale Rugby League span.
Die span speel hul heel eerste wedstryd op 25 Oktober in Brakpan teen die Norhern Bulls en op 31 Oktober, weer in Brakpan teen die Eastern Eagles van die Oostelike Provinsie. Die Westelike Provinsie speel op 5 Desember teen die Warthogs in Potchefstroom, terwyl die Noordwesspan vroeg aanstaande jaar na Oos-Londen vertrek en vroeg Februarie 2016 besoek die Mpumalanga Panthers die Warthogs op die vlakvarke se tuisveld.Vanjaar is een van die belangrikste in die geskiedenis van Rugby League in Suid-Afrika.
Verskeie lande is bereid om teen Suid-Afrika se nasionale span, die Rhinos te speel, terwyl verskeie universiteite aangedui het dat hulle teen Suid-Afrika se universiteite en studentespanne wil uitdraf. Suid-Afrika se nasionale span het reeds aan twee wêreldbekers deelgeneem, terwyl die SA Studente ook hul stemme dik gemaak het op internasionale front. ’n Studentespan word tans saamgestel vir vanjaar se seisoen wat vandeesmaand begin het, terwyl voorbereidings getref word vir ‘n moontlike wêreldbeker in Suid-Afrika binne die volgende vyf jaar.
Rugby League in Noordwes se provinsiale span, die Western Warthogs sal deur rugbyklubs in vier streke verteenwoordig word.



