SportSport

Inspirerende swemmer gaan haar lig in studies skyn

Haar positiewe gesindheid, kanniedood passie en merkwaardige geloof het vanjaar vir die paralimpiese swemmer, Adri Visser, nuwe deure oopgemaak waar sy een van haar grootste drome gaan najaag. Adri, wat gebore is sonder hande en ‘n regterbeen omdat haar ma tydens haar swangerskap Duitse Masels gehad het, het keuring gekry vir haar B.A. Hons. in …

Haar positiewe gesindheid, kanniedood passie en merkwaardige geloof het vanjaar vir die paralimpiese swemmer, Adri Visser, nuwe deure oopgemaak waar sy een van haar grootste drome gaan najaag.

Adri, wat gebore is sonder hande en ‘n regterbeen omdat haar ma tydens haar swangerskap Duitse Masels gehad het, het keuring gekry vir haar B.A. Hons. in Biokinetika aan die NWU Pukke en gaan die eerste “erge” fisiese gestremde nagraadse student in die rigting wees.

Adri is bekend vir haar swemprestasies, maar nou wil sy haar fokus op ’n lewe na swem plaas, waar sy mense kan ondersteun en sodoende ’n inspirasie vir ander kan wees. Sy het verlede jaar haar B.A.-graad in Menslike Beweging en Sielkunde voltooi en gaan die honneurskomponent oor twee jaar wil voltooi.

“Ek voel dat ek al so ongelooflik baie in my lewe geseën is. Hierdie is my manier om terug te gee aan ander, sodat hulle ook die spesiale geleenthede kan ervaar wat ek al in my loopbaan en as biokinetika pasiënt beleef het saam met Abie van Oort, my biokinetikus. Sonder hom sou dit nie moontlik kon wees nie,” vertel Adri, wat nuwe hoop wil verskaf.

“Ek glo dat alles vir ‘n rede gebeur en dat God dit toegelaat het sodat ek ander kan inspireer, en so hulle Jesus se lig in my sal sien skyn. As ander na my kyk of staar, sien ek dit as ‘n positiewe. Ek kan mense motiveer en ’n verskil maak om hulle eie uitdagings en ander se gestremdhede te oorwin,” vertel Adri.

Sy lewer ook af en toe motiveringspraatjies by skole en funksies. Adri swem al vandat sy 13 is en haar ontmoeting met die water het haar lewe ‘n vars doelgerigtheid gegee. Sy swem in die S5-kategorie en hou tans die Afrika rekord in die 50m vlinderslag, 200m vryslag en 200m Individuele Medley.

“ ’n Stokperdjie (swem) het onverwags in ’n swemloopbaan verander en het my droom ‘n werklikheid geword toe ek die stadion in Beijing vir die 2008 Paralimpiese Spele binnegaan.

Ek kon my oë nie glo nie,” vertel Adri wat nou agt jaar later mik om by die 2016 Paralimpiese Spele te gaan deelneem en dan daarna op ‘n hoë noot uit swem uit te tree. Al het sy verskeie medaljes verwerf en verskeie S.A- en Afrika rekords gebreek, bly sy nederig.

Sy noem ook juis dat haar swemafrigter, Marike van Oort, ’n groot bydrae in haar loopbaan gemaak het. “Jou swemafrigter is so belangrik. Dit is die persoon wat daardie ekstra in jou sien en jou met daai baie belangrike split sekonde laat wen of ondersteun om altyd jou persoonlike beste tye te swem.

Dit is so dat ons gewoonlik die krediet kry, terwyl ons afrigters meer agter die skerms is, maar ek kan met sekerheid sê dat dit ‘n spanpoging is. Dankie Marike vir alles, jy is een amazing afrigter,” voeg sy by.

Adri se grootste rolmodel is haar ma, wat haar inspireer. “My ma het my nog altyd ondersteun en sy is trots op wat ek al bereik het en nog gaan bereik, veral in hierdie nuwe opwindende pad. Sy is my steunpilaar saam met my twee sussies.

Adri Visser is 'n inspirasie vir ander en het alreeds haar diploma en voorgraadse studies by NWU Pukke voltooi.
Adri Visser is ‘n inspirasie vir ander en het alreeds haar diploma en voorgraadse studies by NWU Pukke voltooi.

 

“Ek het oorspronklik sportkunde  gekies omdat ek graag iets in ’n sportrigting wou doen, en so het ek in my studies biokinetika ontdek en wil nou mense se lewens verander. Toe ek hoor ek het keuring, was ek baie dankbaar dat die Here my gelei het en dat dit Sy wil is. Ek glo al die struikelblokke in my lewe maak dit vir my makliker om te volhard. Ek het nie moed opgegee nie,” vertel sy. Sy erken wel dat dit nie maklik gaan wees nie aangesien die kursus baie praktiese elemente bevat. “Die akademici het wel gevra of ek in staat sal wees om al die take te doen, maar ek het hulle verseker dat ek sal kan.

Ek het hulle gevra om saam met my te glo en ‘n leap of faith te neem. En so met baie dankbaarheid het hulle. Ek beplan om ander metodes te gebruik, soos multimedia waar ek nie noodwendig iets self kan demonstreer nie, ek sal saam met hulle dit aanspreek.

Ek weet wel dat ek op die regte pad is in my lewe en dat ek waarlik alles kan vermag met Sy krag. Ek is tot alles in staat deur Jesus wat my krag gee,” haal sy Filippense 4:13 aan.

Adri sal ook graag aan gestremdes met haar kennis in biokinetika wil teruggee, aangesien sy reeds by ’n klompie organisasies soos die jaarlikse Loslitdag en Otto Bock SA Prosthetics betrokke is. “Biokinetika staan vir lewe deur beweging en ek wil vir gestremde mense wys en help dat hulle ook ’n voller lewe kan lei soos ek, ongeag wat hulle struikelblokke mag wees.”

>Interessante feite oor Adri:

•Sy het ’n rekenaartik op skool (Hoërskool Birchleigh) gehad.

•Haar gunsteling musiek is van Chris Tomlin, Hillsong United en Casting Crowns

•Haar gunsteling kos is haar ma se lasagne

•Sy is mal oor koffie en geniet Romans Pizza en McDonald’s nou en dan

•Sy is ’n diereliefhebber en sal graag eendag ’n pekingese as ’n troeteldier wil hê.

•Adri het die Midmar Myl 1.6km dam swem al 10 keer agtereenvolgend voltooi en haar beste tyd daarvoor is 34.10 min.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button