NWU-swemklub soos visse in die water
Swemmers van die NWU-swemklub het hulself deeglik laat geld tydens die afgelope Noordwes Kortbadkampioenskappe wat op 25 en 26 September by Pecanwood College plaasgevind het. Die mans (seuns) was die algehele wenners, terwyl die vroue (dogters) ‘n derde plek behaal en die klub ook algeheel derde uit alle deelnemende klubs in die provinsie geëindig het. …
Swemmers van die NWU-swemklub het hulself deeglik laat geld tydens die afgelope Noordwes Kortbadkampioenskappe wat op 25 en 26 September by Pecanwood College plaasgevind het.
Die mans (seuns) was die algehele wenners, terwyl die vroue (dogters) ‘n derde plek behaal en die klub ook algeheel derde uit alle deelnemende klubs in die provinsie geëindig het. By
eenkoms rekords is verbeter deur Aiden Nel (25m borsslag), Reynard Rossouw (50m rugslag) en Willie Scheepers (50m borsslag en 50m kruipslag), terwyl Cornell Loubser, Samantha Blaauw en Michelle Pistorius almal die 50m vlinderslagrekord wat Michelle verlede jaar opgestel het, oortref het.
Die klub het 28 goue-, 21 silwer- en 24 bronsmedaljes ingepalm en die skuim behoorlik laat spat in die aflositems, waarvan die gemengde 200m kruipslag-aflos ongetwyfeld vir die meeste opwinding onder die toeskouers gesorg het.
Tydens die jaarlikse provinsiale prysuitdelingseremonie, wat saam met hierdie kampioenskappe plaasvind, is junior provinsiale kleure aan Alexia Duarte, Retief Esterhuysen, Wiehann Kock, Cornell Loubser, Mickey Olivier en Michelle Pistorius toegeken, terwyl Michelle Pistorius ook senior provinsiale kleure ontvang het.
Swemmers wat by herhaling junior provinsiale kleure verdien het, is Nadia Blaauw, Samantha Blaauw, Van Zyl Brand, Sergio dos Santos, Caylin du Plessis, Jadrika Fourie, Annien Muller, Reynard Rossouw, Willie Scheepers en Ryno von Weilligh. Senior kleure is ook by herhaling aan Cornell Loubser en Willie Scheepers toegeken, terwyl Michelle Bloem en Cornell Loubser (‘n medaljewenner tydens die onlangse Wêreldkampioenskappe vir Dowes) erekleure ontvang het vir hul prestasies tydens vanjaar se Suid-Afrikaanse Nasionale Swemkampioenskappe in Durban.
Abie van Oort (junior) en Ryno von Wielligh (senior) het provinsiale kleure vir Oopwaterswem ontvang. Spesiale erkenning is aan Samantha Blaauw en Michelle Pistorius verleen vir rekords wat deur die seisoen opgestel is. Samantha en Willie Scheepers (afrigter van die Junior Pukkies) is as die beste swemmers van die seisoen in die Ope- afdeling aangewys.



