SportSport

NWU Pukke netbalster sit met ‘n doel voor oë

Haar passie vir netbal is duidelik as sy oor haar vertonings, spanmaats en die spel in die algeheel gesels. Renske Stoltz, hulpdoel vir NWU Pukke se Varsity netbalspan geniet elke oomblik van die sport en haar doelgerigtheid is juis wat haar bring tot waar sy vandag is – ’n Varsity netbalspeler vir NWU Pukke, een …

Haar passie vir netbal is duidelik as sy oor haar vertonings, spanmaats en die spel in die algeheel gesels.

Renske Stoltz, hulpdoel vir NWU Pukke se Varsity netbalspan geniet elke oomblik van die sport en haar doelgerigtheid is juis wat haar bring tot waar sy vandag is – ’n Varsity netbalspeler vir NWU Pukke, een van die land se beste universiteitspanne wat elke jaar ’n klomp nuwe juwele oplewer.

Renske het wel nie haar netbaltalent by Pukke, soos baie ander ontgin nie, maar is eerder in hierdie milieu geslyp tot die skitterende speler wat sy tans is.

“Ek is eers Tuks toe, maar kon nie so baie geleenthede daar kry om te speel nie. Daar is baie spelers en dit is baie moeiliker om span te kry. Pukke bied soveel meer geleenthede, wat ek aangegryp het,” vertel Renske.

Alhoewel sy nie haar universiteitsloopbaan in die Noordwes begin het nie, bly sy ’n trotse Noordwester met haar netbalwortels wat sterk in Rustenburg is. Hier het sy soos pure platinum bo haar teenstanders vir laer- en hoërskool Rustenburg uitgeblink.

“Ek het van kleins af gedroom om op hierdie professionele vlak netbal te speel. In graad 11 het ek werklik goed begin speel. Dit is vir my ongelooflik lekker, soos ’n droom wat waar geword het,” sê sy. Dit was nog altyd deel van Renske se DNA om doele te skiet en die vergrootglas op haar spel te hê.

“Ek hou van die druk en dit is lekker om daardie strategiese bydraes en planne te maak en doele te skiet. Dit is een van die lekkerste gevoelens om punte aan te teken,” vertel sy, wat baie aandag aan haar akkuraatheid en tegniek gee. Die kranige netbalspeler glo ook wel dat sy nie kon kom waar sy vandag is sonder kwaliteit afrigting met die jare nie.

“Afrigting maak of breek ’n span en ons is gelukkig om een van die land se beste afrigters te hê. “Dot (Dorette Badenhorst) het ’n manier om ons almal bymekaar te bring en ons te lei.

Elkeen respekteer haar baie en ons speel vir mekaar,” vertel sy. Die Varsity Netbal ervaring glo sy ook het haar ’n beter speler gemaak en haar net meer verlief op die spel gemaak. “Dit voel baie professioneel en toer is die lekkerste deel. Ek sal nooit netbal kan los nie,” meen sy, wat later dalk in afrigting sal wil ingaan.

Twee van haar grootste rolmodelle in haar lewe is juis die afrigters wat haar op die lewenspad koers gegee het en meer geleer het – haar ma as lewensafrigter en Elize Kotze as netbalafrigter. Hierdie jaar glo Renske ook dat Pukke op die regte tyd sal presteer en dat die volgende paar wedstryde krities sal wees.

Meer oor Renske:

Studies: 2de jaar B.Com. Menslike Hulpbronne

 Gunsteling Musiek: Country

Gunsteling plek: Die Kaap

Sport wat jy sou beoefen as netbal nie ’n opsie was nie: Tennis

 Komiese oomblik op die netbalbaan? Ek het een keer in graad 10 my voet gebreek nadat ek van blydskap vir een van my spanmaats gespring het. Die bal was nie eers naby my nie en toe wonder almal hoekom ek skielik teen die grond is.

Speler waarna jy opkyk?: Pamela Cookey (Engelse netbalspeler)

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button