‘n Rugbyman in hart en siel
Vir die Luiperds se nuwe Hoof Uitvoerende Bestuurder, Andries de Kock, is rugby so te sê gelyk aan menswees. “Rugby is my passie. Dit gaan oor die mense wat by die spel betrokke is, asook die rugbygemeenskap. ‘n Ou moet terugsit in die gemeenskap,” noem De Kock, wat tans in die posisie is na hy …
Vir die Luiperds se nuwe Hoof Uitvoerende Bestuurder, Andries de Kock, is rugby so te sê gelyk aan menswees.
“Rugby is my passie. Dit gaan oor die mense wat by die spel betrokke is, asook die rugbygemeenskap. ‘n Ou moet terugsit in die gemeenskap,” noem De Kock, wat tans in die posisie is na hy ‘n onverwagse oproep van die Luiperds president, adv. André May gekry het.
“Dit was heeltemal uit die bloute, omdat ek reeds twee jaar afgetree is. Ek was met vakansie by die see toe André my bel. Ek wou graag help, dit is iets wat my uitdaag en ek glo ek kan my ervaring goed hier gebruik,” noem die gesoute rugbyman wat ook voorsitter van die Impala Rugbyklub in Rustenburg is.
De Kock het grootgeword in Evander en sy skoolloopbaan in daardie dorpie voltooi. Hy is na Rustenburg gepromoveer waar hy groot spore getrap het, veral by Impala Platinum.
“Ek het 40 jaar en sewe maande daar gewerk. Vir 35 jaar was ek deel van die mannekrag en was ek die hoof van die skagte in die myn waar ek 14 000 mense bestuur het. Ek het ook ‘n trust gestig met ‘n privaat opleidingsentrum in Rustenburg wat op voorheen benadeeldes gemik is, waar ons jong ambagsmanne oplei,” vertel De Kock, wat op ‘n aanduiding vir sy passie vir mense en persoonlike ontwikkeling dui.
Hy dra sy belange na aan die hart en glo dat hy ‘n verskil kan maak waar hy nou by die Luiperds ingespan is.
“Daar is sekere beginsels wat in plek moet kom sodat die Luiperds die sterkste klein unie in die land kan wees. ‘n Ou moet realisties wees dat ons nie met die groter unies kan kompeteer op finansiële vlak nie. Professionalisme is belangrik, daar moet ‘n bestuurstelsel en prosedures wees wat as riglyn dien,” meen de Kock, wat uit ‘n sterk korporatiewe agtergrond kom.
“Ons het een van die sterkste universiteite in die land, maar as ons by rugby as ‘n provinsie kom dan is ons nie daar waar ons kan wees nie. Ons sit met een van die land se sterkste klubspanne (Impala) in die land sowel as ‘n sterk universiteitspan. Ons moet kyk hoe ons tussen al die aandeelhouers die beste span op die veld kan sit. Vir my is dit ‘n wen-wen situasie om ‘n goeie verhouding tussen die Luiperds en die Puk te hê,” sê hy verder.
Volgens De Kock is klubrugby ook ‘n baie belangrike aspek as daar na die Luiperds se professionele been in die streek gekyk word, en moet nie onderskat word nie.
“Ek is ‘n ou wat baie klubrugby kyk, klubrugby is vir my fantasties en daar is baie potensiaal,” sê De Kock wat aanskou het hoe die Rustenburg Impala die 2014 Cell C Gemeenskapsbeker gewen het.
‘n Klub moet reg bestuur word en daar moet struktuur en dissipline wees in daardie klub. As daar struktuur op klubvlak is dan vloei dit deur na die professionele stelsel,” meen hy, wat graag die Luiperds as handelsmerk in die komende maande meer alomteenwoordig in die provinsie wil maak.
Volgens May was dit teen einde September 2015 duidelik dat daar nie goeie finansiële bestuur by die Luiperds Rugby Unie toegepas is nie en dat dit dringend was om ‘n persoon met die nodige ervaring en dissipline aan te stel om ‘n regrukpoging by Luiperds Rugby te lei.
“Weens Andries se jarelange betrokkenheid in rugby administrasie en -bestuur, nie alleen by Impala Rugbyklub nie maar ook by Luiperds Rugby en verder in ag genome die feit dat hy afgetree het, het ek die kans gevat om hom te nader met ‘n versoek om ons te kom uithelp tot 28 Februarie 2016. Dit was baie duidelik die regte besluit en werp dit op hierdie stadium reeds vrugte af en is ons in gesprek met Andries om sy kontrak te verleng,” sê May.
Vinnige brokkies:
Gunsteling vakansieplek: Die bosveld, maar my vrou verkies die see.
Gunsteling kos: Braaivleis
Gunsteling boeke: Ek is ‘n groot nuusleser en ek hou daarvan om op hoogte van sake te bly.
Beste rugby oomblik: Om die 1995 Rugby Wêreldbekerfinaal tussen die Springbokke en die All-Blacks by Ellis Park te kon kyk. “Ek onthou hoe die vliegtuig bo-oor Ellis Park gevlieg het. Dit was ‘n wonderlike belewenis om almal so bly in die strate te sien.
Beste raad wat jy al ontvang het: My ma het vir my die beste raad gegee, in die sin dat ek altyd moet onthou om verantwoordelikheid te aanvaar.
Familieman: De Kock spits hom toe op sy familie en het saam met sy vrou Helene, twee kinders, Gene en Gerhard, skoonseun Carl, sowel as twee kleinkinders wat hy graag bederf.



