SportSport

Europa wink vir Potch se veelsydige SA en Afrika kampioen

Die land se beste junior damesfietsryer is slaggereed voor nog ’n groot wedren. Vir baie fietsryers is dit die laaste keer in ’n wedren wat hulle vir die junior dames SA Marathon (bergfiets), Afrika XCO en SA padfietskampioen, Danielle Strydom (17) mooi kan sien. As die wedren eers begin, dan is Potchefstroom se kampioenfietsryer op …

Die land se beste junior damesfietsryer is slaggereed voor nog ’n groot wedren. Vir baie fietsryers is dit die laaste keer in ’n wedren wat hulle vir die junior dames SA Marathon (bergfiets), Afrika XCO en SA padfietskampioen, Danielle Strydom (17) mooi kan sien.

As die wedren eers begin, dan is Potchefstroom se kampioenfietsryer op haar bloedrooi BMC Teamelite 01 soos ’n resiesperd uit haar hok. Voluit vorentoe en trap vir trap snel sy verby haar teenstanders op haar bergfiets, totdat sy soos gewoonlik eerste oor die wenstreep seil.

Hierdie is vanjaar ’n algemene prentjie met Strydom wat onlangs vir al haar titels die grootste erkenning gekry het, deur as die enigste Suid-Afrikaner in die Europese Junior Padfietstoer gekies te word en ook vir die SA Junior Bergfietsspan wat in die Tsjeggiese Republiek in Julie gaan deelneem. Twee in een met reeds drie gesogte titels in haar sak.

“Ek het gewerk vir die SA XCO, maar soos ek gery het vanjaar het ek en my pa besef dat ons die mikpunte hoër moet stel. So dit was ’n groot verrassing om vanjaar so vinnig te vorder, aangesien dit my eerste jaar as ’n junior (17-18 jaar) is. Ek sou dit nie sonder my pa kon doen nie,” vertel die graad 11-leerder van Potchefstroom Gimnasium.

“Ek kan nie beskryf hoe gelukkig ek is nie. My afrigter, Frans van der Berg het so ‘n groot rol gespeel sowel as al my oefenmaats en my ouers wat my bystaan. Ek lewe my passie uit en dit is vir my ’n groot eer om SA te verteenwoordig,” sê sy al glimlaggend.

Sy het juis die goeie nuus in skooltyd ontvang toe haar pa, Jan, vir haar ’n boodskap op haar foon gestuur het.

“Ek het eers by my juffrou gehoor of ek die klas kan verlaat en toe daar en dan my pa bel so opgewonde was ek!,” sê Danielle wat bergfiets bo padfiets verkies, al is sy uitstekend in al twee.

Dis te verstane aangesien Danielle ’n bergfietsoefenbaan op die plaas het waar hulle woon.  Haar pa het die baan gebou en duidelik werp dit vrugte af. Sy oefen gereeld die 5 kilometer roete daar om haar vaardighede te verskerp.

“Dis gevaarlik om deesdae alleen te gaan ry, so hierdie baan is ideaal. Daar is lekker tegniese dele wat ek oefen en ek sou sê dat dit beslis ’n voordeel is.”Danielle berei noukeurig vir elke wedren voor en volg Van der Berg se oefenprogram deeglik, waar sy weekliks 250-300 kilometer voltooi. Dit bestaan min of meer uit intervaloefeninge (sprints) sowel as bulte aanpak (telefoonkoppie). “My wedrenstrategie is om te kyk hoe die veld lyk en dan my sterkpunte te gebruik om hulle te wen. Deesdae breek ek vroeg weg en daag die ander uit om my te vang,” vertel sy.

Dieet is ook ’n belangrike aspek van ’n wenner en met Danielle het sy haar eie voedsel wat die petrol in haar tenk sit. “Ek is ’n groot vleiseter. Veral hoender voor ’n wedren omdat dit makliker verteer. Die geheim is om nie te swaar te eet voor ’n wedren nie en ook nie te ryk nie. Koffie is ek ook mal oor!” sê Danielle. Natuurlik help dit ook as sy ’n bederfie soos ’n sjokolade melkie van haar pa ontvang na ’n harde wedren.

Haar ouers ondersteun haar natuurlik ook al die pad en deel ook Danielle se passie vir fietsry.  “Dit is vir ons fantasties. Ons is rêrig in die wolke hieroor. Dit is vir ons goed dat sy so aktief is en geniet wat sy doen,” vertel Jan.

In die toekoms sal Danielle wil aanhou met haar fietsry en sover as moontlik gaan. Hierdie nuwe ervaring waar sy die eerste keer in Europa gaan deelneem, gaan definitief net nog ’n pluimpie vir die jong SA ster te wees.

“Ek sien baie uit daarna. Die omgewing en weersomstandighede gaan my toets maar ek weet dat ek gereed vir enige iets sal wees.”

Kyk die video hier:

https://www.citizen.co.za/potchefstroom-herald/?post_type=video_of_the_day&p=16271

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button