Ferdies struikel in semi teen Morgenzon
Dit was ’n geval van een te ver vir Ferdies se uitstekende o.15-A rugbyspan wat na ‘n harde wedstryd teen Morgenzon Landbouskool in die Virseker Beeldtrofee vir kleinskole met 29-10 die knie moes buig. Dié wedstryd, wat op Saterdag, 20 Augustus op Ferdies se tuisveld gespeel is, was voorwaar ’n stryd tussen albei skole se …

Dit was ’n geval van een te ver vir Ferdies se uitstekende o.15-A rugbyspan wat na ‘n harde wedstryd teen Morgenzon Landbouskool in die Virseker Beeldtrofee vir kleinskole met 29-10 die knie moes buig.
Dié wedstryd, wat op Saterdag, 20 Augustus op Ferdies se tuisveld gespeel is, was voorwaar ’n stryd tussen albei skole se losskakels – Ferdies se Tshepo Matloko en Morgenzon se Steven Jordaan.
Jordaan, het die eerste groot skuif gemaak toe hy die eerste drie gaan druk het vir sy span. Jordaan het ‘n uitstekende wedstryd gehad en met sy aanvallende lopies groot kommer besorg. Sy skakelmaat, Nkosinathi Nkosi was ook net so woelig in die nommer 9-trui.
Al het Morgenzon die eerste indruk gemaak het Ferdies hulle kanse gevat en teruggeveg met die rooikop-heelagter Ruan de Bruin se drie wat die telling 5-5 teen halftyd gemaak het.
Morgenzon moes wel die halftyd spanpraatjie van ’n leeftyd ontvang het, want na die breuk was hulle vuur en vlam. Vier verdere driëe van Jordaan, Damien Theron (2) en Michael Spies het die wedstryd uit Ferdies se beheer geplaas. Ferdies het later begin moeg word met al die verdediging wat hulle moes doen, maar het wel nog ’n keer onder die pale gaan kuier toe Justin Engels gewys het wat in hom steek. Die flank, Rohan Meintjes, was ook een van Ferdies se uitblinkers en het tot die einde nog sy alles gegee.
Die eindfluitjie was die laaste doodsknal vir Ferdies se blink 0.15’s wat na een van hulle suksesvolste en langste seisoene ooit steeds hulle koppe hoog kan hou.
Die afrigters, Jacques Geldenhuys en Funani Mabala, het die span in ’n hegte eenheid gevorm en groot lof moet vir hulle harde werk dié seisoen gegee word.








































