Luiperds en Griffons gaan alles uithaal op Olënpark
Die Luiperds is nou in die eerste plek op die Curriebeker Eersteliga na nog ‘n bonuspuntoorwinning, die keer ’n 54-42 wen teen die Welwitchias in Windhoek. Die Luiperds was na 13 minute reeds 19-0 voor na drieë deur HP Swart, Gene Willemse en Loftus Morrison en twee doelskoppe deur Johan Deysel. Die tuisspan het nooit …
Die Luiperds is nou in die eerste plek op die Curriebeker Eersteliga na nog ‘n bonuspuntoorwinning, die keer ’n 54-42 wen teen die Welwitchias in Windhoek. Die Luiperds was na 13 minute reeds 19-0 voor na drieë deur HP Swart, Gene Willemse en Loftus Morrison en twee doelskoppe deur Johan Deysel. Die tuisspan het nooit gaan lê nie en een van hulle beste vertonings van die seisoen gelewer.
Die Luiperds was teen rustyd 35-21 voor.
Die Luiperds is in die afwesigheid van Juandre Rudolph en Juan Language deur die Namibiese Wêreldbekerspeler, Johan Deysel, aangevoer. Hy het die kans uitstekend benut en ook die rol as stelskopper oorgeneem. Sy bydrae was 24 punte: twee drieë en sewe doelskoppe. Die ander ster van die Luiperdspan was Gene Willemse wat nou sy nis in die nommer tientrui gevind het. Hy het met skitterende hardloopspel ‘n driekuns behaal. Rowayne Beukman het die Luiperds se ander drie gedruk.
Die Luiperds se grootste toets van die liga lê Vrydag om 15:00 op sy tuisveld in Potchefstroom voor wanneer die Griffons gepak moet word. Die Griffons lê op nege ligapunte na hulle nie ’n bonuspunt teen SWD kon kry nie al het hulle met 33-27 gewen.
Na al die jare in die bedryf is dit nou nog nie vir die skrywer moontlik om met sekerheid die uitslag van enige wedstryd tussen die Luiperds en die Perstruie te voorspel nie. Dit is met elke wedstryd ’n tweestryd soos min met nie een van die spanne wat wil besgee nie.
Gemeet aan die ses drieë wat die Luiperds teen die Welwitchias afgestaan het, sal die Luiperds beslis aandag moet gee aan verdediging. Die voorspelers sal moet beheer oorneem en sorg dat die besoekers net met krummelbesit tevrede moet wees.
Hierdie wedstryd is die ideale geleentheid om die Luiperds te gaan ondersteun.



