Derde plek vir Potch se Ysterman
Na ‘n lang stryd om die derde plek in die mans 40-44 ouderdoms-kategorie by die IM 70.3 Ironman-kompetisie in Durban, het Potchefstroom se Dawie Janse van Rensburg uiteindelik vir mede Potchefstromer, Hannes Jonker geklop. Dit was net een van die groot tweestryde op die dag waar 18 van Potchefstroom se driekampers op 18 Junie die …

Na ‘n lang stryd om die derde plek in die mans 40-44 ouderdoms-kategorie by die IM 70.3 Ironman-kompetisie in Durban, het Potchefstroom se Dawie Janse van Rensburg uiteindelik vir mede Potchefstromer, Hannes Jonker geklop.
Dit was net een van die groot tweestryde op die dag waar 18 van Potchefstroom se driekampers op 18 Junie die IM70.3 aangepak het.
Die weerstoestande was perfek vir ‘n goeie dag en uit die staanspoor uit was dinge vuurwarm in dié kompetisie. Na 1.9km se see-swem het Hannes die vinnigste tyd opgestel en hy het weer in die 90km fietsrybeen sy stem dik gemaak. Na die fietsry het ‘n plat 21.1km op Durban se promenade op die atlete gewag.
Dis hier waar Dawie geweet het dat as hy vir Hannes wil vang, hy sy beste moes uithaal. As gevolg van die “rolling start” (sewe atlete spring elke sewe sekondes weg) met die swem weet die atlete nooit presies wat hulle posisies is tot aan die einde nie – wat nogal spanningsvol is.
Dawie is egter net sewe sekondes na Hannes in die see en het hy geweet dat as hy hom verbyvat, hy voor hom sal eindig. Met net 3km om te gaan op die hardloop, is Dawie verby Hannes en eindig hy met ‘n goeie 1 uur 24 minute op die hardloop deel.
Dit het vir Dawie ‘n algehele 17de plek op die dag besorg en 3de in sy ouderdomsgroep, met Hannes 20ste algeheel en 4de in dieselfde ouderdomsgroep.
Dawie het ook gekwalifiseer om in 2018 in Port Elizabeth aan die IM70.3 wêreldkampioenskappe deel te neem, wat vir hom ‘n groot mikpunt was. “Ek is dankbaar vir al die ondersteuning langs en op die pad en bevoorreg om saam met die Potchefstromers te kan oefen en deelneem,” het Dawie na die strawwe kompetisie genoem.
Lizzy Taute was die eerste vrou van Potch, gevolg deur Liske Scholtz.
Daar is weer in Januarie 2018 in Oos-Londen geleentheid om te kwalifiseer vir die wêreldkampioenskappe. Met harde werk kan Potchefstroom dalk nog so ‘n paar atlete oplewer.
Atlete wat deelgeneem het:
Dawie Janse van Rensburg
Zack van der Merwe
PZ Oberholtzer
Henry Relling
Hannes Jonker
Dana Schutte
Andre Denobili
Ferdie Huisaman
Alfred Nebe
Marius Liebenberg
Liske Scholtz
Charne Strydom
Elaine Burger
Lizzy Taute
Lou-Mare Naudé
Juanita
Spanne: Audri Liebenberg en Lynette Marais.




