SportSport

Potch atlete is goud werd in Algerië

Daar is beslis kampioenstowwe in Potchefstroom se water, met plaaslike junior atlete Joné Kruger en Jana Steinmann wat albei goue medaljes by die 2017 junior o.20 Afrika Atletiekkampioenskappe in Tlemcen, Algerië die afgelope naweek verower het. Kruger (NWU-Pukke) het in die sewekamp haar veelsydigheid vertoon en met 4 850 punte ‘n welverdiende eerste plek behaal …

Daar is beslis kampioenstowwe in Potchefstroom se water, met plaaslike junior atlete Joné Kruger en Jana Steinmann wat albei goue medaljes by die 2017 junior o.20 Afrika Atletiekkampioenskappe in Tlemcen, Algerië die afgelope naweek verower het.

Kruger (NWU-Pukke) het in die sewekamp haar veelsydigheid vertoon en met 4 850 punte ‘n welverdiende eerste plek behaal en Ataf Benhadja van Algerië uitgestof wat op tuisgrond met ‘n tweede plek tevrede moes wees. Steinmann, ‘n matriekleerder van Gimmies, het ‘n goue medalje in die gewigstoot losgegooi met ‘n afstand van 13.15 meter.

Kruger en Steinmann was deel van ‘n behoorlike Suid-Afrikaanse wenspan wat altesaam 17 medaljes (12 goud, vier silwer en een brons) ingesamel het en sodoende die atletiektalent in die land beklemtoon het. “Dit is regtig ‘n ongelooflike gevoel, die ervaring het my so nederig gemaak en ek is net so dankbaar. Dit was ‘n baie goeie geleentheid en dit was vir my ‘n groot voorreg om op daardie vlak deel te neem. Dit was die eerste keer wat ek internasionaal in atletiek deelgeneem het en dit maak die wen net soveel beter,” vertel Kruger opgewonde. Wat juis vir Kruger uitgestaan het gedurende haar eerste groot internasionale atletiekbyeekoms, was die entoesiasme en vriendelikheid wat sy van die mense in Algerië ervaar het.

Joné Kruger
Joné Kruger

Die pawiljoene was elke dag volgepak en dit het dit soveel lekkerder gemaak om deel te neem. Ook die feit dat ek drie persoonlike bestes behaal het was ‘n hoogtepunt. Ons was ‘n klein span en almal het vinnig na aan mekaar gegroei en mekaar ondersteun.”Kruger het veral in die naellope haar teenstanders laat stof sien en in die 200 meter het sy haar eie persoonlike beste met 0.8 sekondes verbeter na 25.40.

Sonder ondersteuning en puik afrigting glo hierdie uitstekende jong atleet dat sy nie haar drome sou kon bereik nie, en sy lê veral klem op haar hoofafrigter, Werner Burger, se bydrae tot haar sukses.

Die 0.20 Junior Atletiekspan wat Suid-Afrika in Algerië verteenwoordig het.
Die 0.20 Junior Atletiekspan wat Suid-Afrika in Algerië verteenwoordig het.

“Hy bestee soveel tyd en moeite aan my en ten spyte van sy ander verpligtinge, is hy enige tyd van die dag beskikbaar vir oefening. Hy het my gehelp om my oefenskedule te beplan sodat ek elke oefening optimaal kon benut, aangesien ek nou vir sewe items moes oefen.”

Joné Kruger (NWU-Pukke) het by die o.20 junior Afrikakampioenskappe alle verwagtinge oortref om 'n goue medalje in die sewekamp te verower. Sy is sodoende nou die beste in Afrika in haar ouderdomsgroep. Inlasfoto: Jana Steinmann (middel) van Potchefstroom Gimnasium is die o.20 Afrika junior-gewigstootkampioen nadat sy verlede naweek ‘n goue medalje in Algerië verower het.
Joné Kruger (NWU-Pukke) het by die o.20 junior Afrikakampioenskappe alle verwagtinge oortref om ‘n goue medalje in die sewekamp te verower. Sy is sodoende nou die beste in Afrika in haar ouderdomsgroep. Inlasfoto: Jana Steinmann (middel) van Potchefstroom Gimnasium is die o.20 Afrika junior-gewigstootkampioen nadat sy verlede naweek ‘n goue medalje in Algerië verower het.

Kruger was ook vol lof vir Terseus Liebenberg, Tom Ferreira en Julia en John Ross wat met verskeie items gehelp het in haar voorbereiding. “Laastens , my ouers en my sussie vir al hulle werk en ondersteuning agter die skerms, in besonder my ma wat saamgegaan het na Algerië as hulpafrigter om my te ondersteun en te verseker dat alles glad verloop. Almal wat my deur die jare ondersteun het spoor my aan. Ek waardeer dit opreg.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button