Rekords sous by kortgeknipte Interhoër
Die 2019 Noordwes A-liga Interhoër was een van die taaiste en kompeterendste byeenkomste in die laaste dekade met Potchefstroom Gimnasium en Hoërskool Klerksdorp wat kop-aan- kop tot op die antiklimaks van die einde gebly het. Dit was wel die weer wat die laaste sê gehad het, toe weerlig en onveilige toestande die byeenkoms ‘n uur …
Die 2019 Noordwes A-liga Interhoër was een van die taaiste en kompeterendste byeenkomste in die laaste dekade met Potchefstroom Gimnasium en Hoërskool Klerksdorp wat kop-aan- kop tot op die antiklimaks van die einde gebly het.
Dit was wel die weer wat die laaste sê gehad het, toe weerlig en onveilige toestande die byeenkoms ‘n uur voor die geskeduleerde tyd omstreeks 16:00 kortgeknip het. Sodoende is die uitslae onbeslis en is daar geen amptelike wenner bepaal of trofee oorhandig nie, asook geen victor of victrix ludorums aangewys nie. Dit juis aangesien die finale baan-items (naamlik die 100m en aflositems) wat baie punte sou bydra, nie in rekening gebring kon word nie.
Toe die weerlig begin dreun en reën begin neerstort, het Gimmies (602 punte) voorgeloop met KHS kort op hulle hakke met (583 punte). Ten spyte van die weer wat ‘n demper op die byeenkoms geplaas het, was daar steeds baie om voor dankbaar te wees, met ‘n ongelooflike 59 rekords wat in die A-afdeling gebreek is. Dit wys die gehalte atletiek, wat op ‘n snikhete-dag plaasgevind het, asook die werk en moeite wat atlete en afrigters ingesit het.
Foto’s: Dané du Plooy
Die junior SA-atleet, Nicola van der Merwe (Hoërskool Rustenburg) het een van die hoogtepunte van die byeenkoms gelewer toe sy in die dogters o.19 200m-item ‘n blitsige tyd van 24.17 sekondes gehardloop het. Ander spoggerige prestasies was Rico Leijenaar (Gimnasium) wat in die 1500m vir seuns o.14 ‘n tyd van 04:31.26 behaal het om Volkie, Divan Jurgens, se rekord te breek. KHS se Papino Maluleke (seuns o.14 100m hekkies) het ook die 14-sekonde merk gebreek met ‘n tyd van 13.76.
Daar was ook ‘n groot geveg in die seuns o.15 gewigstoot met Armand Willemse (Gimmies) en John van Wyk (Volkies) wat albei Rocco Coulson se rekord van 15.20 gemaklik gebreek het. Willemse, wat op die ou einde tweede met ‘n gooi van 16.07m geëindig het, moes die knie teen Van Wyk se 16.47m gooi buig.
Dit was so in die seuns o.15 spiesgooi waar KHS se MJ Mostert met ‘n verstommende 63.09m afstand teen Willemse (59.48m) en Dian Dahms (52.90m) koning gekraai het. Die vorige rekord was Wian van der Merwe se 49.40m gooi.
Gimmies se Lumka Gebengana se 7.01 meter sprong was ook ‘n nuwe rekord in die seuns o.19 verspring.
Gebengana en Boys High se Thekiso Mohale (6.54m) was in ‘n goeie stryd betrokke, met albei wat Donevan du Toit se 6.43m byeenkomsrekord in die proses gebreek het.
Een van die groot hoogtepunte van die dag was die tweestryd tussen Gimmies se Miandi van Staden en Kayla van der Bergh (KHS). In die 200m was hulle altwee kop-aan-kop met Van Staden wat ’n oorwinning behaal het. Van der Bergh, ‘n hekkies-spesialis en Afrika-kampioen het haar kwaliteit bewys in die dogters 100m hekkies-item met ‘n tyd van 14.05 – ‘n volle twee sekondes vinniger as die byeenkoms-rekord in die item.
Die puntestand was as volg in die A-afdeling:
Potchefstroom Gimnasium: 602
KHS: 583
RHS: 543.5
Hoërskool Lichtenburg: 534
Hoërskool Wesvalia: 528
Volkskool: 372
Potchefstroom Girls High: 112
Potchefstroom Boys High: 75












































