Volkies klop Gimmies gemaklik danksy draaiers en mokerman Marais
Hoër Volkskool Potchefstroom het hulle tradisionele teenstanders, Potchefstroom Gimnasium met 87 lopies in ‘n drafstap vandag in die Coca-Cola Noordwes T20 finaal vir Potch-skole geklop. Wikus Marais, ‘n tweedespanspeler, was Volkies se mokerman met sy 73 (30) balle wat die grondslag vir Volkies se oorwinning gelê het. Marais het vandag sy eerstespanpet ontvang en sy …
Hoër Volkskool Potchefstroom het hulle tradisionele teenstanders, Potchefstroom Gimnasium met 87 lopies in ‘n drafstap vandag in die Coca-Cola Noordwes T20 finaal vir Potch-skole geklop.
Wikus Marais, ‘n tweedespanspeler, was Volkies se mokerman met sy 73 (30) balle wat die grondslag vir Volkies se oorwinning gelê het. Marais het vandag sy eerstespanpet ontvang en sy kans met altwee hande gegryp in ‘n wedstryd wat hy nog vir lank sal onthou.

Marais het die maklik laat lyk met 6 reuse sesse en 7 viere wat die Gimmie-boulers gereeld laat kopkrap het. Dit het die momentum in Volkies se seile gesit en van toe af kon hulle die wen verder met puik kolfwerk van Timothy Malan (64) anker. Louis Fourie met 2/32 was die beste Gimmies-bouler wat met swaai die skade beperk het.
Foto’s: Wouter Pienaar
Volkies het op die ou einde 168/5 in 15 beurte (weens ‘n laat begin) gemaak om die druk op Gimmies te plaas. Eerlikwaar het Gimmies alreeds na die eerste 5 boulbeurte nie dieselfde plofkrag getoon nie en die wedstryd was Volkies s’n om te verloor van daar af. Gimmies se kolwers het onder die akkurate boulwerk van draaiers, Stefan Fourie (3/14) Corné Prinsloo (2/10) en Van Zyl Smit (2/7) geknak en is in die laaste bouleurt almal vir slegs 81 uitgeboul.
Dit is ook beduidend dat die hoogste lopiemaker ekstra bylopies (21) was met slegs Dylan Barends se 17 (24) wat dubbelsyfers met die kolf behaal het.
Volkies vorder nou na die Noordwes T20 semi-finaal wat môreoggend (Saterdag, 16 Februarie) omstreeks 10:00 op die NWU Puk-Oval teen Hoërskool Lichtenburg gespeel sal word. Indien Volkies dié wedstryd wen sal hulle in die finaal later (14:30) speel.




























