As die Fanie du Toit Sportgronde se spreiligte weer aangesit word en die pawiljoene vol luidrugtige NWU ondersteuners is, dan kan dit net een ding beteken: Die Varsitybeker is weer hier!
Hierdie jaar gaan die NWU van verlede jaar se semi-finaal verdriet moet vergeet en dit ver weg begrawe want 2020 is nie net ‘n nuwe jaar nie, maar ook ‘n nuwe dekade.
Wat ook nuut is vir die NWU is dat daar nou ‘n nuwe hoofafrigter in die warm stoel is met die Luiperds afrigter, André Pretorius, wat nou ook sy plek as die NWU se breier vir die Varsitybeker inneem.
Vanjaar is Jean Tiedt weer sy adjudant en Pretorius sal Tiedt se tegniese vaardighede en skerp sin vir die spel grootliks waardeer.
Die Maties wat nou al vir die afgelope twee jaar die kroon dra, sal graag dit drie in ‘n ry wil maak.
Die kern van hulle gesogte spelers is daar, maar daar is nou ook ‘n nuwe afrigter, Drikus Hancke, wat die voormalige kampioenafrigter, Hawies Fourie, se plek inneem.
Die NWU speel hulle eerste wedstryd weg van die huis af teen Tukkies op die LC de Villiers-stadion op Maandag, 3 Februarie.
Daarna pak hulle die Ikeys van die Kaap in ‘n taai wegwedstryd op die beroemde winderige “Green Mile” aan.
Die NWU se eerste tuiswedstryd is ‘n lip-lek-lekker oud Intervarsity-stryd teen Shimlas van Bloemfontein wat op 17 Februarie gaan plaasvind. Net as die Potchefstromers dink hulle kan gemaklik raak op hulle tuisveld, speel hulle die volgende week weer weg teen Wits in Johannesburg wat ‘n interessante stryd tussen twee bekende teenstanders sal wees.
Die week daarna bevind die NWU hul teen die manne van UJ tuis voordat hulle met ‘n week se ruspouse die bene kan strek. Dit kom ook op die perfekte tyd vir die NWU-manne wat op 16 Maart die verdedigende kampioene, Maties, aanvat.
“Dit is die ideale tyd vir ‘n rusweek in die middel van die kompetisie. Voorheen was ons vroeg in die seisoen af, maar ek dink dis beter dat ons voor so ‘n groot wedstryd teen Maties kan rus,” het Pretorius genoem.
Die NWU reis een finale keer na die Universiteit van Wes-Kaapland op 23 Maart voordat hulle die groepsfase met ‘n tuiswedstryd teen CUT van Bloemfontein op 30 Maart afsluit.
Bepalings:
3 Februarie – NWU teen Tuks – Pretoria (17:15)
10 Februarie – NWU teen UCT – Kaapstad (19:00)
17 Februarie – NWU teen Shimlas – Potchefstroom (19:00)
24 Februarie – Wits teen NWU – Johannesburg (19:00)
2 Maart – NWU teen UJ – Potchefstroom (19:00)
16 Maart – NWU teen Maties – Potchefstroom (19:00) TV
23 Maart – NWU teen UWK – Bellville (18:30)
30 Maart – NWU teen CUT – Potchefstroom (18:30).



