Al is die rugby op die veld skaars, beteken dit nie dat daar van die veld af nie groot verwikkelinge met voormalige NWU Varsitybekersterre gebeur nie.

Die 2016 Varsitybekerwenner saam met die NWU, Walt Steenkamp, gaan aan die einde van die seisoen by die Blou Bulle aansluit.
Steenkamp is tans nog by die Cheetahs gekontrakteer waar hy die afgelope paar jaar letterlik en figuurlik bo sy teenstanders uitgetroon het. Steenkamp het ook baie sukses in Bloemfontein beleef, wat ‘n 2019 Curriebekertitel insluit.

By navraag was Steenkamp in sy noppies oor sy nuwe skuif en het ook die impak wat die Varsitybeker op sy loopbaan gemaak het, geloof.
“Daar is elke jaar meer en meer spelers wat deur die Varsity Cup gekontrakteer word deur professionele unies. Varsity Cup is ook van die lekkerste rugby om te speel en ek het baie goeie afrigting daar ontvang,” noem hy.
Die Bulle is vir my ‘n nuwe uitdaging en blootstelling aan Superrugby. Ek sal altyd daarna streef om beter te wees en te ontwikkel tot die beste speler wat ek kan wees. Ek is baie opgewonde oor die nuwe hoofstuk in my loopbaan,” noem Steenkamp verder.
Hy noem ook dat hy baie goeie herinneringe van Bloemfontein het.
“Die Cheetahs was vir my ‘n ongelooflike ervaring. Een van my hoogtepunte sal altyd verlede jaar se Curriebeker wees wat ons gewen het. En dan natuurlik die Pro14, waar ek as speler baie ondervinding opgedoen het. Ek is baie dankbaar vir my tyd by die Cheetahs.”




