Weens die regulasies van die grendeltydperk, het die NWU-Junior Swemklub onlangs hul eerste suksesvolle virtuele algemene jaarvergadering en prysuitdelingseremonie gehou. Alle swemmers van die klub het sertifikate van erkenning ontvang, insluitend diegene wat die “Learn-to-Swim”-program gevolg of slegs stylafrigting ontvang het. Vanjaar kon dit wel nie per hand oorhandig word nie, maar is dit digitaal op die klub se webtuiste beskikbaar gemaak.
Swemmers wat trofeë vir besondere prestasies ontvang het, is: Jace Gomes (beste junior seun), Xandri Palmer (beste junior dogter), Retief Esterhuysen (beste senior seun) en Amori Potgieter (beste senior dogter). Keira Schroll, Malan Jacobsz, Amori Potgieter en Juandré Uys is met spesiale toekennings vir beste swemslae vereer.
Van Zyl Brand, wat ook ‘n spesiale toekenning ontvang het vir sy prestasie as een van die top 10 swemmers in al drie rugslag-items in beide die 25m en 50m nasionale swemkampioenskappe, was die beste swemmer in die Ope-afdeling en Juandré Uys is algeheel as die beste swemmer van die klub aangewys.
Keagan Tredoux het as nuweling galaswemmer die wisseltrofeë ontvang vir beste tye verbeter en Annika Potgieter is deur die swemmers aangewys as swemmer van die jaar.
Die trofeë sal tegelegener tyd aan die wenners in die verskillende kategorieë oorhandig word.
Hoewel swemmers onder die huidige inperkingsregulasies nie toegang tot hul normale oefenfasiliteite het nie, berei hulle tans steeds kliphard voor vir die nuwe swemseisoen.
Daaglikse aanlyn droëland oefensessies word aangebied tot tyd en wyl formele afrigting en georganiseerde galas onder spesiale reëls en voorwaardes toegelaat word, soos wat tans op hoë vlak onderhandel word.




