Die bekende voormalige SA paralimpiese swemmer, Adri Visser, se groot droom is om ‘n verskil in ander se lewens te maak en terug te gee aan die van wie sy in haar lewe ontvang het.
Visser is ‘n inspirasie vir haar medemens en haar hele lewe getuig van wonderwerk op wonderwerk – nou het sy nog een nodig. Visser is sonder hande en ‘n gedeelte van haar regterbeen gebore en het ten spyte van haar omstandighede rondom haar fisiese gebrek, nog altyd die lewe volstoom aangegryp. Sy is tans besig met haar meestersgraad, maar finansies is stelselmatig besig om deure vir haar toe te maak en sy kort ‘n deurstop.

Visser is tans self verantwoordelik vir haar finansies, huurgeld en studiegelde.
“Dit plaas onmenslik baie druk op my omdat ek net graag my studies wil voltooi en begin werk. Ek sal ook graag eendag my eie outomatiese karretjie wil aanskaf om meer onafhanklik te kan wees.”
Visser het haar voorgraadse studies met die hulp van ‘n NWU NSFAS beurs vir gestremdes voltooi wat dit finansieel moontlik gemaak het.
Haar nagraadse studies is deur haar meestersbeurs by die NWU befonds, maar dit is net vir twee jaar geldig en help haar nie in haar derde jaar van meestersstudies nie.
“Sedert ek kan onthou, wou ek nog altyd ‘n verskil maak in ander mense en mense met gestremdhede se lewens soos wat so baie mense ‘n groot impak in my lewe gehad het en steeds het.
Met my swemloopbaan en om net fisiek aktief te kan wees, het ek die geleentheid gekry om ‘uit my beperkte boksie’ te kan klim waar die Adri binne my kon ontpop en ek my vlerke kan sprei,” vertel sy prontuit.

Visser het reeds ‘n diploma in sportkunde en ‘n honneursgraad in rekreasie en wil graag na haar meestersgraadstudies betrokke wees by fisieke rehabilitasie van gestremdes in ‘n multi dissiplinêre span.
“Toe ek besluit het om my meestersgraad te doen, wou ek graag iets doen wat na aan my hart is. Ek is dankbaar vir die geleentheid gegun deur my studieleiers en NWU om die volgende nuwe studie, Relationship of leisure participation, leisure constraints and quality of life of lower-limb amputees in South Africa te kan aanpak.”
Volgens Visser het dit ‘n rukkie geneem om die navorsingsvraag en metodiek daarvan te vorm en dan ook etiese goedkeuring by die NWU te ontvang, omdat dit ‘n nuwe studie was. “Ons is tans besig om data te versamel deur ‘n aanlyn opname wat deelnemers moet voltooi. Ek is so dankbaar dat hierdie proses steeds moontlik is in die tyd waarin ons onsself bevind en dat my studie kan voortgaan. Ek wil hopelik November my studie inhandig,” verduidelik sy.
“Ek het ‘n Netcare 911 hospitaalbeurs wat my 1ste jaar registrasiekostes gedek het en dan ook ‘n Fakulteitsbeurs wat die jaar se registrasiekostes gedek het. Met die hulp van die TV-program, Tussen Ons, en mense in my lewe het ek ander finansiële hulp ontvang wat oneindig baie vir my beteken.
“Ek het aansoek gedoen by baie beursinstansies maar was nie suksesvol daarin nie. Verder ontvang ek my Sassa geldjies vir gestremdes waarmee ek kos kan koop,” noem Visser. Steeds is die Christus-gefokusde Visser hoopvol dat sy haar groot drome kan najaag. “Ek weet Abba Vader voorsien altyd en kom deur soos wat ek my geloof in Hom plaas en hoop ek dat Hy nog meer mense as ‘n ‘vessel’ sal gebruik om my te help doen wat ek moet om my roeping uit te leef.”
Vir skenkings en finansiële ondersteuning kan Adri by 079 862 1404 gekontak word.
Skenkings kan ook na die volgende bankbesonderhede gestuur word:
Adri Visser
Absa: Spaarrekening.
Rekeningnommer: 9158179083
Takkode: 632005




