Agter die skerms is daar ‘n paar manne wat met hulle passie, trots en liefde vir klubrugby die Neserliga weer terug na Potchefstroom gebring het. Die spanbestuurkorps van Potchefstroom Dorp Rugbyklub wat uit Joe Smith (hoofafrigter), Leslie Jackson (hulpafrigter), Mitchell Coetzee (spanbestuurder) en Ruan Vermaak (assistant spanbestuurder) bestaan het puik werk verrig en ‘n spesiale groep spelers na die groot een gelei.
Hulle 38-20 oorwinning teen Ikageng Rugby Development Club op Saterdag 19 Junie was hulle eerste titel sedert 2013.

Potchefstroom Herald het met hulle gaan gesels om uit te vind hoe sake vanjaar so mooi in plek geval het en hoe die klas van 2021 hulle naam in Potch Dorp en die Neserliga se geskiedenisboeke geskryf het. “Dit is ‘n wonderlike gevoel om die beker vir die eerste keer as afrigter te wen.
In 2019 het Potch Dorp in die eindstryd teen Zeerust verloor en ek het gesê as ek weer die geleentheid kry om Potch Dorp se afrigter te wees wen ek die liga met die ouens wat ons het.
Ek het geweet daar is iets special besig om te begin by Potch Dorp. Laas jaar het ons nie liga gespeel nie maar ek kon darem by my woord hou twee jaar later,” vertel Smith. 
“Dit was ‘n baie lekker gevoel, om te weet jy is die beste klub in Noordwes en dat jy deel is van n groep wat hom wen vir die eerste keer in agt jaar. Dit was baie special, Potch Dorp of niks,” vertel Vermaak, wat ook voorheen al vir die span as speler uitgedraf het.
Vir spanbestuurder Mitchell Coetzee het die oorwinning uiteindelik die apie van die rug af gehaal. “Die manne het ingekoop in ons plan vir die seisoen en dit het baie toewyding gewys.
Dit was belangrik om die kommunikasie tussen die bestuur en die spelers te behou en vertroue van die spelers te kry.
Ons het baie gewerk aan dissipline en ‘n mens kon sien hoe hard hulle gewerk het tydens oefening. Hulle het mekaar deurlopend opgebou en hulle fiksheid en vaardighede verbeter,” vertel Coetzee. 
Volgens Coetzee was die span bitter jonk, maar dat van die ervare Potch Dorp spelers ook ‘n groot rol gespeel het om selfvertroue te kry. “In my opinie is daar vanjaar vyf of ses spelers wat beslis by die Luiperds sal kan inskakel. Die doel vir ons is om spelers vir ‘n hoër vlak van rugby voor te berei,” vertel hy.
Dit is ‘n feit dat almal betrokke vanjaar nie van die doel afgewyk het om die Neserliga te wen nie. Die wil om die beker te wen het net elke week sterker geword.
“Die manne moes vinnig leer om ‘n eenheid te word en die ouens het vir mekaar gespeel. My rol was ook om die ouens spesiaal by Potch Dorp te laat voel en seker te maak dat almal na ‘n wedstryd of oefening saam kuier in die klubhuis en ‘n bier geniet,” noem Vermaak met klem op die goeie spangees vanjaar lê. 
“Ons het elke week onsself herinner waarvoor ons werk. Ek het ek ‘n klomp great afrigters en spanbestuur om my gehad wat als vir my baie maklik gemaak het. Ek glo dat alles in plek geval het in ons wedstryd teen die Stilfontein Hurricanes – toe weet ons beslis wat ons kombinasies moet wees,” sê Smith wat sonder twyfel noem dat die bekeroorwinning ‘n groot spanpoging was.
Sy hulpafrigter, Leslie Jackson, stem saam dat spanwerk een van die groot sleutels tot Dorp se sukses was.
“Dit was lekker om te sien hoe al die spelers jonk en ervare saam die spel geniet het. Ons span het weekliks gegroei. Ons balvaardighede het verbeter en ons het n ongelooflike spangees gehad. Almal het ingekoop in wat ons doen en wou bereik,” vertel Jackson. 
Jackson het hoofsaaklik met die agterlyn gewerk en op verdediging gefokus. Hy is veral bly oor hoe die spelers hulle alles op die veld gegee het. “Ek het op aanvallende spel gefokus en die manier hoe ons verdedig het. Dit was lekker om te sien hoe die jongmanne leiding neem op die aanval en was nie bang om groot duikslae in te sit nie.”
Potch Dorp het net een wedstryd vanjaar teen Klerksdorp Rugbyklub verloor – duidelik teleurgesteld het hulle besluit om reg te maak en te fokus op die volgende paar wedstryde. “Ons het geweet dit was nie ons beste wedstryd vir die jaar nie en ons het presies geweet waaraan om te werk en ons het oefening toe gekom en net aan dit gewerk om al daai foute uit te sluit,” noem Smith.
Die foute is beslis reggestel met ‘n top vertoning in die halfeindstryd teen Zeerust waar hulle as besoekers met 46-12 geseëvier het. Daarna was dit net die eindstryd en in die laaste 80 minute van die seisoen is die doelwit behaal. Smith som die historiese seisoen op as iets wat almal verewig sal onthou.
“Die groep van 2021 sal die seisoen verewig onthou en as hulle mekaar oor 10 of 20 jaar raak loop nog steeds praat oor die span van 2021.”




