
Potchefstroom Dorp Rugbyklub kan hulle hande nie van die Neserbeker afhou nie. Nadat hulle Saterdag, 19 Junie die geharde Ikageng Rugby Development Club met 38-20 in die eindstryd op Olënpark geklop het, was die vreugdevure hoog.
Die spelers het elkeen ‘n kans gehad om die trofee te lig, te koester en ‘n soen of twee te gee. Die afrigtingspan van Joe Smith en Leslie Jackson was ook in hulle noppies met die oorwinning na ‘n lang en uitdagende seisoen in die middel van die Covid-19 pandemie.

Al kon daar nie toeskouers wees nie, was die ondersteuning vir Potch Dorp vanuit die gemeenskap uiters positief. Oud-spelers, afrigters en die breë rugbygemeenskap kan nou weer met trots sê dat rugby in Potch kook.
Potch Dorp het in die eindstryd ses drieë gedruk, met agtsteman Marcel Burger, wat ‘n driekuns ingepalm het om ‘n indrukwekkende seisoen as onderkaptein af te rond. Die senters, Nico Maartens en Rikus van Zyl, sowel as die stut, Doynton Berry, het vir die Potchefstromers gaan druk.

Berry het ook die kans gehad om die kersie op die koek te sit toe hy met die laaste skop van die wedstryd die bal suiwer deur die pale geskop het.
Na 11 jaar by Potch Dorp was dit sy tweede Neserliga-oorwinning. Al sy ander spanmaats het hulle eerste bekersege beleef – iets wat hulle nooit sal vergeet nie.

Potch Dorp het vanjaar net een wedstryd teen Klerksdorp verloor en een gelykop uitslag teen Westonaria beleef. Verder het hulle elke wedstryd gewen met hulle beste vertonings teen Ikageng in die eindstryd, sowel as ‘n 50-5 slagting van Stilfontein en ‘n 46-12 loesing vir Zeerust in die halfeindstryd. Elke speler, voor en agter, het hulle hande vanjaar opgesteek, maar tog was daar ‘n paar manne wat werklik uitgestaan het.
Luan Murray (losskakel) was koelkop deur die loop van die seisoen met sy spelbeheer en skopvoet wat Potch Dorp altyd op die voorvoet gehou het. Skrumskakel, Danie van der Merwe was soos ‘n ‘terrier’ op die aanval en het ook talle geleenthede geskep.
Kaptein, Llewellyn Ellis het sy troepe goed gelei en altyd gevaarlik met die bal in die hand gelyk. Victer Vlok, linkervleuel was sy span se top driedrukker en het met sy spoed en vaart soms die opposisie soos skilpaaie laat voorkom. Marcel Burger was ook altyd op goeie vorm en het nooit teleurgestel nie. 
Die voormalige Gimmie het beslis ‘n seisoen gehad om te onthou, of dit op die aanval, verdediging, lynstane of losgemaal was. “Die finaal was vir my baie lekker omdat ons wedstrydplan en die goed wat ons geoefen het, so mooi bymekaargekom het en in drieë omskep is.
Ons het geweet hulle hou van vinnige, los rugby, so ons het dit doelbewus vasgehou en baie fases opgesit en dit het vrugte afgewerp. Die ongelooflike gees in ons span was beslis vir my ‘n hoogtepunt,” noem Burger. 
“Ons wou maar net wen. Die manne het besluit hulle gaan vir 80 minute alles op die veld los en net vir mekaar speel en ons kon dit sien van die kant af,” vertel Potch Dorp se hoofafrigter, Joe Smith.




