Potchefstroom Gimnasium se eerste krieketspan het die afgelope week ‘n uiters suksesvolle kriekettoer na die Oos-Kaap beleef waar hulle teen top skole gespeel het en onoorwonne uit die tweestryde getree het.
Onder die leiding van hoofafrigter, Wian Lubbe en hulpafrigter, Herman de Jong, het hierdie span gewys waartoe hulle in staat is teen skole soos Pearson High, Graeme College, Grey High, Hudson Park en Westering.
In die eerste T20 wedstryd teen Hudson Park maak Gimmies hulle stem dik en wen met 82 lopies. Gimnasium volg dit op met ‘n gemaklike 7 paaltjie oorwinning teen Westering.

In ‘n tydkrieket-wedstryd teen Pearson High wen Gimmies op die eerste beurt. Gimmies teken 194 almal uit aan met Johan Mahne wat ‘n skitterende beurt van 114 speel. Pearson word almal uitgeboul vir 193.
Hier behaal Ruan Lotz (3/52) en Conrad Jordaan (2/27). Christiaan Viljoen blink ook uit met 2/21 met die bal. Gimmies teken 111/2 in die tweede beurt aan met Martin Bullock 62 (30) wat ‘n warrelwind beurt speel. Saterdag, 25 September speel Gimnasium teen Grey High en wen met 65 lopies.
Hier woeker Johan Mahne weer met die kolf met sy 71 in Gimmies se total van 212. Grey word uitgeboul vir 147 danksy puik draaiboulwerk van Bullock (4/22).
Gimmies eindig hulle week in ‘n 50 beurt stryd teen Graeme College en wen met 3 paaltjies. Die Potchefstromers beperk Graeme tot 180/9. Francois Blom (2/8) en Damien Charslund (2/32) blink hier uit. Mahne se 52 en Martin van Onselen se 50 stuur Gimmies na die oorwinning.




