
Volkies se eerste krieketspan is deur na die Noord-Suid T20 skoletoernooi se kwarteindstryde waar Grey Kollege van Bloemfontein op hulle wag. Volkies speel teen Grey Kollege vandag (Saterdag, 16 Oktober) om 09:00.
Indien hulle die wedstryd wen dan sal hulle teen of Waterkloof of Nelspruit in die half-eindstryd later vandag om 14:00 speel.
Volkies het na uitstekende oorwinnings teen Westville Boys High en Hoërskool Centurion in groep B hulle staal gewys en staan nou ‘n goeie kans om nog groot skole le laat les opsê.
Al het Volkskool hulle eerste wedstryd teen Rondebosch Boys High met 5 paaltjies verloor, het hulle die volgende moet-wen wedstryde teen Westville Boys High (75 lopies) en Centurion (8 paaltjies) gemaklik met bonuspunte gewen.
In die eerste wedstryd teen Rondebosch het verbroude vangkanse, ‘n paar swak houe sowel as aggressiewe kolfwerk van die Kapenaars se Ethan-John Cunningham (70 van 34) en Stijn Bakker (51 van 25) vir Volkies in die hakskeen gebyt. Volkies teken 175/9 aan met Corné Prinsloo se 44 en Attie Liebenberg se 31 wat uitstaan.
Rondebosch teken die wenlopies aan met agt balle oor en 5 paaltjies in die sak. In die tweede wedstryd teen Westville Boys High wys Volkies wat in hulle steek met ‘n 75 lopie oorwinning.
Hier maak Prinsloo sy stem dik met ‘n pragbeurt van 71 (32 balle) wat een vier en 8 sesse insluit. Volkies teken 180/5 aan en boul vir Westville uit vir 105 met die Volkies draaiers, Diaan van der Merwe (4/15), Dian Liebenberg (1/21) en Stephan Fourie (1/20) wat amok maak.

Prinsloo lewer ‘n speler van die wedstryd vertoning met 2/14 in 3 boulbeurte na sy verwoestende kolfbeurt. In die laaste wedstryd van groep B teen Centurion is Volkies se kolwers op top vorm en jaag 176 in slegs 13 boulbeurte.
Ludwich Schuld se 68 (43)* en Corné Nel se 62 (25) neem Volkies na ‘n oortuigende oorwinning wat hulle baie selfvertroue sal gee vir die uitkloprondtes vandag.
Kyk die wedstryde hier:
https://www.pitchvision.com/#/pv-matches




