SportSport

Olimpiese droom in pluimbalspeler se visier

Dit is ʼn uitmergelende reisskedule wat aan haar beursie kou, maar daar is geen keer aan haar vasberadenheid om vir die Olimpiese Spele te kwalifiseer nie.

Hierdie tyd van die jaar klou die humiditeit in Nigerië se hoofstad, Lagos, soos kleefgom aan jou lyf vas.

Dit is neerdrukkend, aanhoudend. Dan is daar Benin, Nigerië se susterland aan die westekant, net ʼn duisend kilometer bo die ewenaar. Haar hawestad, Cotonou, is vasgevang tussen die Atlantiese Oseaan en Nokoué-meer, waar seerowers bekend is om amok te saai.

Hierdie bestemmings is die Noordwes-Universiteit se pluimbalkampioen, Deidré Jordaan, se voorland ná ʼn geskiedkundige, hoewel hartbrekende, Statebondspele-veldtog.

Deidré was deel van die Suid-Afrikaanse span wat vir die eerste keer tot die kwarteindronde van die Statebondspele kon deurdring. Hoewel die span ongelukkig nie hul suksesroete verder in Birmingham, Engeland kon stap nie, bly dit ʼn merkwaardige prestasie.

“Dit was die eerste keer dat Suid-Afrika dit uit die groepfases van die Statebondspele gemaak het, so dit was groot vir ons om in die kwarteindronde te kon speel. Dit was ʼn ongelooflike ervaring en ek is bevoorreg om saam met ʼn wonderlike groep mense in ʼn span te kon speel. Ek wil ook graag vir Yonex Suid-Afrika bedank wat onlangs aan boord gekom het en my voorsien het van al my toerusting wat ek vir die Statebondspele nodig gehad het.”

Sy is skaars tuis of die vlerke word weer gespan.

“Ons is nou terug vir so twee weke dan gaan ek en my dubbelsmaat, Amy Ackerman, Lagos in Nigerië toe en die naweek daarna gaan ons Cotonou toe in Benin. Ons moet punte bymekaarmaak om te kwalifiseer vir die Olimpiese Spele in 2024.

Ons noem hierdie fase ons voor-Olimpiese-kwalifikasieperiode, want die amptelike Olimpiese kwalifikasie begin eers 1 Mei 2023. Maar, teen dan wil jy genoeg punte hê sodat jy in goeie trekkings kan in kom. So, wanneer kwalifikasie begin is jy goed gelys weens die punte wat jy opgestapel het.”

In Oktober volg ʼn toernooi in Egipte waarna Zambië en Botswana wag voor sy 2022 met ʼn toernooi in Kaapstad vaarwel heet.

Dit is ʼn uitmergelende reisskedule wat aan haar beursie kou, maar daar is geen keer aan haar vasberadenheid om vir die Olimpiese Spele te kwalifiseer nie. Solank sy ʼn raket kan swaai, sal 2024 nie haar visier verlaat nie.

Related Articles

Back to top button