Lopies vloei behoorlik by Potchefstroom Gimnasium se tweede krieketspan vanjaar met hierdie eersteklas span wat in twee 50 beurt ligawedstryde alreeds 998 lopies in totaal gemoker het.
In hulle eerste wedstryd teen Volkies se tweede span slaan Gimmies 421 lopies, terwyl hulle gister (Saterdag, 3 September) dit verbeter het met ‘n reuse 577/4 telling teen Ferdies se eerste krieketspan.

Albei hierdie wedstryde wen Gimmies se tweede span op ‘n drafstap. Hulle begin met ‘n 334 lopie oorwinning teen Volkies wat vir 87 uitgeboul is en ‘n 497 lopie sege teen Ferdies. Hier is Ferdies ook vir slegs 80 uitgeboul.

Gimmies se uitblinker met die kolf vanjaar is James Wood wat 137 (110) slaan teen Volkies en dit opvolg met ‘n verstommende 250* van slegs 140 balle teen Ferdies. Hy maak ligte werk van Ferdies se boulaanval en smale 29 viere en 7 sesse in.
Caiden Seleka, die jonger broer van NW Dragons speler, Caleb, slaan ook ‘n puik 158 (82) teen Ferdies en ‘n blitsige 85 (40) teen Volkies.
Hierdie span se vertonings is ‘n bewys dat daar beslis ‘n sterk poel van talent by Gimmies is en dat daar aanhoudend aan die eerste span se deur geklop word vir plek in die eerstes se elftal.




