NWU karate uitblinker verteenwoordig SA by Statebond Karatekampioenskappe
Die 19-jarige NWU karate uitblinker, Charmari Steyn, gaan vanaf 7-11 September aan die Statebond Karatekampioenskappe in Birmingham, Engeland deelneem. Hierdie eerste jaar B.ed grondslagfase student beoefen al vir ‘n dekade karate en het bewys dat sy een van die bestes in haar ouderdomsgroep is. Charmari is oorspronklik van Bloemfontein en het in 2021 aan die …
Die 19-jarige NWU karate uitblinker, Charmari Steyn, gaan vanaf 7-11 September aan die Statebond Karatekampioenskappe in Birmingham, Engeland deelneem.
Hierdie eerste jaar B.ed grondslagfase student beoefen al vir ‘n dekade karate en het bewys dat sy een van die bestes in haar ouderdomsgroep is.
Charmari is oorspronklik van Bloemfontein en het in 2021 aan die Sekondêre Meisieskool Oranje gematrikuleer.
“Ek is baie opgewonde asook baie dankbaar dat my ouers my die geleentheid gee om dit te kan meemaak. My oupa het altyd vir my gesê Jy het ‘n pad wat jy wil loop, maar die Here bepaal dit,” noem Charmari oor haar komende kampioenskappe in Engeland.


“My Shihan Louis Kritsinger is my Shihan van 10 jaar oud af. Hy het my ook help voorberei vir die kampioenskappe. Ek het ook nog 2 ander sensei wat my help. Sensei Liam help my oor naweke as ek huis toe gaan en as ek in Potch is, is dit Sensei Johan van Tonder.
Sy het vanjaar alreeds goud by die USSA kampioenskappe sowel as die Arnold Classic verower.
Volgens Charmari geniet sy kampioenskappe die meeste aangesien sy dan kan implementeer wat sy geoefen het.
“My grootste hoogtepunt is om Proteakleure te kry. Dit was nog altyd my droom gewees,” noem sy.
In enige atleet se sportloopbaan is daar ook teleurstelling en volgens haar is dit nooit lekker om uit te mis op kampioenskappe nie.
“My grootste teleurstelling is dat ek nie ook my SA Universiteit span kan gaan verteenwoordig in Turkye vanaf 22-30 Oktober nie.”
Volgens haar het karate haar al deur die jare baie lewenslesse geleer en is iets wat sy daagliks toepas.
“Jy moet nooit moed verloor nie. Al kry jy seer is dit belangrik om op te staan en aan te gaan. ‘n Aanhouer wen.”




