Die NWU se voorspelers het vyf van die NWU se ses drieë teen UJ gisteraand (20 Februarie) gedruk om vir die Potchefstromers ‘n oorwinning van 41-28 in hulle eerste Varsitybeker stryd van die jaar te besorg.
Dit was ‘n taai wedstryd, teen halftyd was die telling 15-18 in UJ se guns. Voor die wedstryd het Burger van der Westhuizen, hoofafrigter van die NWU, gesê dat UJ ‘n baie fisiese span is, hier het die Arende hulle man gestaan en die oorhand gekry.

Die opwindende haker, Vernon Paulo het twee drieë gedruk, ervare stut, Ruben du Plessis het een ingepalm. Wiehan Nel en Chyle van Zyl het ook elk een gaan druk. Sylvester Hassien, wat op skrumskakel begin het, het seker gemaak dat die voorspelers nie al die glorie vir hulleself vat nie, en het ook onder die pale gaan kuier.
Volgens Jonathan Mokuena, hoofafrigter van UJ, het die NWU die wedstryd op kritieke tye beter beheer.
“Die groot ding is om die championship minute (10 minute voor halftyd en 10 na halftyd) te beheer dit is wat die NWU goed gedoen het. Ons moes ook die kere wat ons in hulle kwartgebied gekom het, beter benut het,” het Mokuena gesê.
Diè ‘n bonuspunt oorwinning sal die NWU baie selfvertroue in hulle volgende stryd teen Shimlas gee. Die manne in Pers sal steeds gefokus moet wees, veral na Shimlas in hulle eerste wedstryd die verdedigende kampioene, Tuks gewen het.
Die NWU draf volgende Maandag, (27 Februarie) teen die Shimlas op die Fanie du Toit sportgronde uit.



