Met ‘n patriotiese skare wat bankvas agter hul staan het die Proteas ‘n fantastiese 48-48 uitslag teen die Silwervarings van Nieu-Seeland gisteraand (Woensdag, 2 Augustus) in die 2023 Wêreldbeker-netbaltoernooi behaal.
‘n Doel in die laaste sekondes van Nichole Taljaard onder geweldige druk, het ‘n welverdiende gelykop-uitslag verseker.
Die skare was absoluut uit hulle vel toe die skeidsregter die eindfluitjie blaas en hierdie gelykop eintlik meer soos ‘n oorwinning gevoel het teen die verdedigende kampioene.

Die NWU doel en hulpdoel, Elmeré van der Berg het ook ‘n top wedstryd beleef en 22 doele aangeteken met ‘n doelpersentasie van 85%.
Suid-Afrika was teen halftyd met 26-21 agter, maar het puik teruggeveg in die laaste 30 minute met van hul beste netbal van die toernooi.
Nieu-Seeland se Maia Wilson was ook skitterend, maar SA se verdedigers, het hul bes gedoen om dinge moeilk vir die Kiwis te maak.
SA speel vanmiddag teen Uganda om 16:00 en moet oortuigend wen om die half-eindstryde te haal. Hul moet ook hoop dat Nieu-Seeland teen Jamaika vasval in vanoggend se wedstryd.



