Potchefstroom Gimnasium se eerste krieketspan het geen probleme gehad om vir Fields College van Rustenburg in die NW u.19A liga met 10 paaltjies te klop nie.
Beide Gimmies se openingspaar, Tommie Botha en Marnu Cronje was suinig met hulle paaltjies en hul spanmaats net laat sit en kyk na 25 beurte se kwaliteit kolfwerk. Hulle behaal die teiken van 196 nadat die boulers vir Fields College vroeër tot 195/5 in 50 boulbeurte beperk is.
Dit het gelyk of Gimmies op ‘n nuwe kolfblad kolf soos hulle vir Fields College se veldwerkers laat leer jaag het. Cronje slaan 106 (73 balle) wat 18 viere en 2 sesse insluit. Botha kolf teen ‘n rustiger pas en kry 65 van 84 balle. Hy slaan ook sewe viere.
Dit was ‘n dag vir openingskolwers met Fields College se Muhammad Bulbulia wat ook ‘n 95* (150 balle) aangeteken het. Sy onoorwonne beurt was treffend en het as die gom van sy span se kolfpoging gedien.
Gimmies speel hulle volgende wedstryd in die T20-liga tuis teen Wesvalia op Donderdag, 24 Augustus. Die o.15A span wat verlede naweek ‘n loslootjie gehad het, speel tuis op die Gimmies Oval ook teen Wesvalia op Dinsdag, 29 Augustus.








