Die NWU het hulle eerste groot toets in vanjaar se Varsity Netbaltoernooi geslaag toe hulle ‘n baie kompeterende UJ-span met 47-43 gisteraand (Maandag, 21 Augustus) geklop het.
Sake was gedurig gelyk met die NWU wat net bietjie ekstra in die tenk gehad het om UJ te klop en sodoende steeds oorwonne in vanjaar se kompetisie te bly.
Die hulpdoel, Caitlin du Plessis, is as die speler van die wedstryd aangewys na sy weer skitterende werk in die doelsirkel verrig het. Haar vennootskap met Sunel Smit (doel) blyk om vrugte af te werp met die twee wat mekaar goed komplimenteer.
Foto’s: Christiaan Kotze/Asem Engage
Vermelding moet ook aan senter, Jomari Lubbe, en aanvallende vleuel, Tlotlang Mokomela, gegee word wat uitstekende wedstryd in die middel van die baan gehad en ook takties goeie besluite gemaak het.
UJ het nooi opgegee nie en tydens die Powerplay (‘n 2-minuut periode waar elke doel twee punte tel) was hulle kort op die NWU se hakke diep in die vierde kwart.
Muhluri Hlatshwayo en Owethu Ngubane het albei goeie vorm gewys en het hul geleenthede benut om doele vir UJ aan te teken, maar hul kon net nie genoeg balbesit behou nie.












