Volkies en Gimmies se jong kriekettalent het verlede week kragte gemeet en hulle eerste smaak van hierdie tradisionele kragmeting gekry.
Hierdie twee skole het mekaar in ‘n nuwe o.14 T20-liga op Volkies se velde aangepak met Volkies wat spogregte met ‘n 6 paaltjie-sege behaal.
Gimmies kolf eerste en teken 137 almal uit in 19.2 beurte aan. Gimmies se kaptein, Ulrich Botha slaan 33 (28) en Lukas Kotze maak 29 (22). Hier is Volkies se Christiaan Verster Gimmies se angel met syfers van 4/22 in 4 boulbeurte.
Volkies steek die teiken in die 18de beurt verby met Jürgen Hesse wat ‘n aanvallende 51 (34) moker. AW van der Merwe dra ook 33 (39) by. Gimmies se Ruhann Steenkamp lewer ‘n puik boulvertoning met 2/15 in vier boubeurte.
Gimmies het hul eerste wedstryd van die seisoen met 16 lopies teen Wesvalia gewen terwyl Volkies met 8 paaltjies teen Wolmaransstad geseëvier het.






